Local newsNews

Stoffberger sluit matriek jaar op hoë noot af en die toekoms wink

Met trofeë wat die tafel laat kreun het en ‘n asemrowende goue rok, sluit Carla Schönfeldt haar matriekjaar af met glans en roem op televisie.

Indien daar al ooit ‘n matrikulant was wat haar hoërskoolloopbaan met die spreekwoordelike “bang” afgesluit het, dan is dit die 2025 onderhoofmeisie van Hoërskool Stoffberg, Carla Schönfeldt (17).

Die Brakpan Herald het onlangs berig oor hierdie talentvolle en opkomende aktrise, en die rol wat sy verwerf het in die televisiereeks Diepe Waters (Talentvolle Brakpanner slaan rol los in kykNET se Diepe Waters).

Sy blom in haar rol in die televisiereeks, maar het ook geskitter tydens haar matriekafskeid en die skool se onlangse prysuitdeling.

Nie net is sy as Stoffie van die Jaar aangewys nie, maar ‘n lang lys toekennings getuig van haar harde werk, toewyding, talent en die vele opofferings wat sy gedurende haar matriekjaar gemaak het.

Carla het goue erekleure ontvang vir onderhoofdogter, kaptein van die eerste netbalspan, openbare redenaarskuns, redenaars, netbal, toneel, atletiek, buitemuurs en akademie (gemiddeld 71%).


Carla Schönfeldt het ‘n unieke goue skepping na haar matriekafskeid gedra. Foto: Verskaf

Die tafel het behoorlik gekreun met al die trofeë wat sy ingepalm het. Sy het trofeë ontvang vir netbalspeler van die jaar, beste Afrikaanse redenaar, beste Engelse redenaar, aktrise van die jaar en kultuurleerder van die jaar.

Oor al haar prestasies, en veral die eer om Stoffie van die Jaar te wees, het Carla gesê sy het hard daarvoor gewerk. Die Stoffie van die Jaar-toekenning was beslis die een waarvoor sy die hardste gewerk het.

“Ek is diep dankbaar en was in my element toe ek hierdie toekenning ontvang het,” het Carla gesê.

Sy het ook uitgestaan by haar skool se matriekafskeid wat onlangs plaasgevind het. Carla het opgedaag in ‘n goue skepping deur Dazelle Venter.

Langs haar was haar twee “boeties” uit die televisiereeks Diepe Waters, Marco (Xander Venter) en Danie (Chartyn van Heerden). Carla vertolk die rol van hul kleinsus, Hanneli, in die reeks.


LEES OOK: Brakpan quartet to represent South Africa at world championships


“Dit was so ‘n ‘amazing’ manier om vyf jaar van ons hoërskoolloopbaan met ‘n makietie te kon afsluit,” vertel sy.

“Die hoofleiers en dissiplinêre komitee (DK) het ’n spesiale dans aangeleer en het die dansvloer daarmee geopen.

“Dit was beslis ‘n hoogtepunt en iets wat ek nog vir baie lank sal koester en onthou,” het Carla vertel.

Sy het ook ingeskryf vir Sarie-tydskrif se Matriekrok van 2025 met die uitsonderlike goue rok wat sy aangehad het.

Met die eindeksamens wat tans aan die gang is en die verfilming van episodes van Diepe Waters tussendeur, sê Carla dat sy beter funksioneer in chaos.


Carla Schönfeldt het tientalle toekennings opgeraap by haar skool se onlangse prysuitdelng.

“Ek geniet dit om uitdagings aan te pak, maar ek fokus steeds daarop om goeie matriekuitslae te kry,” sê sy.

Carla vertel dat sy weens haar verpligtinge met Diepe Waters nie so gelukkig soos ander matrieks sal wees om na die eksamen op vakansie te gaan nie.

“Ons neem nog episodes op tot in die middel van Desember en my kontrak is nog geldig tot diep in volgende jaar.”

“My pad met Diepe Waters strek dus nog ‘n ent vorentoe. Dit was nog altyd my droom om op die verhoog te wees of om ‘n rol te vertolk vir televisie of film.

“Om te studeer is egter beslis in my toekomsplanne, maar vir eers fokus ek op my rol as Hanneli Viljoen in Diepe Waters.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Thelma Koorts

Thelma Koorts is an editor with a passion for delivering high-quality editorial services that meet the evolving needs of readers and clients. She currently serves as the editor for the Brakpan Herald, Springs Advertiser, African Reporter, and Heidelberg Nigel Heraut. With over 30 years of experience in journalism, her goal is to keep readers informed and updated through informative news from the community to the community.

Related Articles

Back to top button