
Ek verwys na die berigte wat die afgelope tyd in die Herald en ander koerante verskyn het, oor die wrede moord op Jasmin Pretorius.
Ek moet bieg, toe ons van die tragiese voorval te hore kom was ek so ontsteld dat ek gehuil het.
Ek is self ‘n ouer van ‘n ses-jarige meisiekind. Ek kan die hele tragiese gebeurtenis net nie verwerk nie.
Die angs en pyn wat Jasmin moes beleef het my snags laat wakker lê, al het ek niemand van die gesin geken nie.
Ek is groot gemaak en geleer om nie te haat nie, maar ek voel bitter haat teenoor die persoon wat dit aan haar gedoen het.
Die enigste ding wat my so bietjie beter laat voel is om te sien hoe die mense van Brakpan saam staan.
Ek kon net die eerste hofverskyning bywoon, want daarna het ek weer begin werk en dit was nie vir my moontlik nie.
Dit was goed om te sien dat die publiek nie die tipe van optrede gaan duld nie.
Daar is nie plek vir mense wat kinders verkrag en vermoor in ons samelewing nie.
Ek was en sal altyd ‘n baie beskermende ouer wees, maar sedert die voorval, wat hier onder ons neuse plaasgevind het, is ek ekstra versigtig.
My raad aan alle ouers is om jul kinders soos goud op te pas. Mens weet nooit wanneer so iets verskrikliks kan gebeur nie.
Ek hoop dat geregtigheid sal geskied en dat die skuldige sal boet vir sy vieslike, onvergeetlike en onvergeefbare dade.



