
Ek woon in Dalpark en ry elke oggend so 7.20vm se kant om my kinders by die skool te gaan aflaai.
Ek sien gereeld ‘n groepie vroue, wat almal waarskynlik huiswerkers is, wat onder ‘n boom staan en bid.
In die begin het ek nie mooi geweet wat hulle doen nie maar ek het gou besef dat hierdie vyf of ses vroue elke liewe oggend tyd maak om hande te vat en te bid voordat hulle by hul onderskeie werkplekke begin.
Ek vertel toe ‘n vriendin van my, wat in Brenhurst woon, daarvan en sy sê toe dat daar ook in Brenthurst ‘n groepie vroue is wat presies dieselfde doen.
Die vroue is, volgens my vriendin, elke oggend naby die NG Kerk, Brenhurst waar hulle in ‘n kringetjie staan en bid.
Dit is vir my die mees fantastiese gebaar. Hoeveel van ons maak nog tyd om elke oggend te bid voordat ons met ons dagtake begin.
Ek glo dat baie van hierdie vroue in groot armoede bly en elke oggend vroeg moet opstaan om met ‘n bus of ‘n taxi na hulle werkplekke te ry.
Ek kry sommer ‘n warm gevoel in my hart as ek in die oggend verby die groepie in Dalpark ry.
.



