
Ek stem saam met die skrywer van die brief dat dit waarskynlik ’n goeie idee sal wees, maar ek gaan beslis nie dat my voertuig vol nat bottels wat stadig ontvries lê nie.
Ek het ook nou die dag besluit om vanjaar vir geen bedelaar of karwag ’n sent te gee nie.
Ek glo ek het verlede jaar ten minste ’n R1 000 aan fooitjies vir veral karwagte bestee, maar ook hier en daar aan ’n bedelaar.
Ek het op Woensdag (13 Januarie) gou by ’n kafee stilgehou en het ongelukkig nie kleingeld by my gehad nie.
Die karwag het homself regtig opgedring en het basies in die pad gestaan, sodat ek om hom moes raaksien en om hom moes ry.
Ek het skuldig gevoel en in my motor se asbakkie gekrap. Daar was net ’n paar 10 en 20 sent stukke (seker so altesaam R1).
Ek was haastig en het die geld aan die man oorhandig.
Hy het na die kleingeld in sy hand gekyk, sy kop geskud en vir my ’n vuil kyk gegee.
Toe ek wegry en in my truspieëljie kyk, sien ek hoe hy sy hand oplig om verder sy misnoeë te kenne te gee.
Soveel ondankbaarheid!
Nou begin ek spaar. Ek gaan elke aand die geld wat ek aan ’n karwag of bedelaar sou gee in ’n spaarblikkie plaas.
Daardie geld sal ek in Desember aan my kerk skenk.



