Fietsryers moet sorg dat hul sigbaar is
Fietsryers is nie altyd sigbaar genoeg vir motoriste nie.

Andrea van der Westhuizen skryf per e-pos:
My skrywe het twee onderwerpe.
Eerstens het ek as ma van twee jong kinders (vier en ses jaar) die berig op die voorblad van die Herald van 6 Julie (Ongeluk laat groot leemte) met groot hartseer gelees.
Ek kan my nie indink hoe daardie twee vroue moet voel nie. Die pad voorente gaan nie maklik wees nie. Ek bid dat hulle die krag en die leiding en die ondersteuning sal kry om hulle pragtige kindertjies groot te maak.
Hul verlies is enorm. My man is my steunpilaar. Ek kan nie glad nie ’n lewe sonder hom indink nie.
Sterkte julle twee mammas.
Tweedens wil ek ’n baie ernstige beroep op fietsryers doen. Ek kom in die aande eers so teen 6.15nm in Brakpan vanaf my werkplek, met die gevolg dat dit reeds donker is.
Wat my elke aand opval is hoeveel fietsryers die pad gebruik sonder enige lig of weerkaatsende klere.
Baie van die mense is ook maar soos ek, op pad na hul huise, en weens die winter is meeste van hulle se kleredrag ook donkerkleurig. Dit maak dit nog moeiliker om hulle raak te sien.
Ek het onlangs amper ’n man raakgery omdat hy basies heeltemal onsigbaar was. Hy het ook nie aan die kant van die pad gery nie.
Hierdie fietsryers stel hul eie lewens in groot gevaar. Ek voel dat dit verpligtend moet wees om een of ander tipe lig aan jou fiets te hê as jy in die donker ry.
Die ryers wat glimbaadjies of weerkaatsende klere aan het maak dit darem so bietjie makliker maar dit is nie voorkomend genoeg nie.
Volg ons:



