Suzie vier 100 jaar
‘n Inwoner van Die Frank Mynhardt Sorgsentrum vier Maandag (26 Mei) iets wat nie baie mense beskore is nie.

As Suzie le Roux se asem dit hou sal sy 100 kersies op haar verjaarsdagkoek moet uit blaas.
Die fyn, vriendelike vroutjie se dat sy dit self nie kan glo nie.
“Ek sit party dae so en dink en dan besef ek dat ek 100 jaar oud gaan wees. Dit voel amper nie vir my of dit met my gebeur nie,” vertel sy.
Haar identiteitsboekie vertel egter die waarheid. Suzie le Roux is op 26 Mei 1914 in Heidelberg gebore.
Sy het die grootste gedeelte van haar lewe saam met haar oorlede man, Loeks le Roux en hul vier kinders in Germiston gewoon. Loeks is op 72-jarige ouderdom oorlede.
Suzie se tweede oudste dogter Tina (76), wat self ‘n inwoner van die Frank Mynhardt Sorgsentrum is vertel dat haar ma nooit gewerk het nie.
“My ma het tuis gebly en ons kinders groot gemaak. Sy het nie geglo aan ‘n huishulp nie en het al die jare van haar volwasse lewe die huishouding self behartig,” het Tina vertel.
“Sy was soos ‘n besige by wat nooit stil gesit het nie. Sy was altyd besig om te bak en brou of naaldwerk te doen. Sy het ook haar lewe lank baie werk vir die kerk gedoen.”
Suzie vertel dat sy geen geheim of spesiale raad het om met mense, wat ook graag ‘n hoë ouderdom wil bereik, te deel nie.
“Die Here het vir my gehelp om hierdie pad te stap. Dit is maar al,” is haar eenvoudige antwoord.
Benewens die feit dat haar gehoor en sig nie meer een honderd persent is nie, is Suzie ‘n relatief gesonde persoon.
“Ek het so rukkie terug ‘n bietjie griep gehad maar nou gaan dit darem weer baie beter,” vertel sy.
Die op en wakker vrou glo ook nie daarin om sommer pille te drink nie.
“My ma is nie iemand wat ‘n pilletjie sluk vir elke pyn of skeet nie. Sy drink nie eens bloeddrukpille nie en het nog nooit in haar lewe nie. Wanneer dit absoluut noodsaaklik is, sal sy ‘n pilletjie sluk maar sy hou nie daarvan nie,” het Tina vertel.
Ma en dogter se kamers in die sorgsentrum is ‘n entjie uitmekaar maar hulle kuier daagliks oor en weer.
“Dit is vir my ‘n groot voorreg om my ma so naby my te hê, het Tina gesê.
Sy vertel dat die personeel onlangs vir haar ma ‘n loopraam (met wiele) gegee het, net om te voorkom dat sy val wanneer sy loop.
“Ek vertel vir jou, wanneer my ma eers agter daardie loopraam stap moet ek maar wikkel om by te bly. As ek nie roer nie stap sy sommer vir my weg hoor,” vertel Tina.
Suzie se oudste dogter Lenie is oorlede en na Tina het Jannie (72) en Martietjie (53) gevolg.
Tina vertel dat Marietjie ‘n laatlammetjie was, wat haar ma op 47-jarige ouderdom gehad het.
Daar is ook 15 kleinkinders, 19 agter kleinkinders en sewe agter agter kleinkinders.
Die muur in Suzie se kamer getuig van die liefde vir haar gesin. Rye en rye foto’s van almal verskaf vir haar groot genot wanneer sy elke dag daarna kan kyk.
Die familie beplan om Sondag vir die merkwaardig vrou ‘n groot partytjie te hou.
“Ons gaan almal daar wees om hierdie besondere dag te vier,” het Tina gesê.



