Ankers help behoeftiges só
Leerders van Hoërskool Die Anker hou een keer per maand Ankerdag, wat behels dat die leerders op dié dag hul skoolklere mag verruil vir 'n denim en hul Ankerhemde.

Vir dié voorreg moet die leerders R10 betaal en ‘n blikkie nie bederfbare kos na die skool neem. Die geld word aangewend om vir behoeftige gesinne in die skool kos aan te koop.
“Ons voorsien op die stadium 20 huisgesinne van kos,” het ‘n woordvoerder van die skool gesê.
“Ons voel bevoorreg om te kan help en ons is baie dankbaar teenoor die ouers en kinders wat die projek goed ondersteun,” het die woordvoerder bygevoeg.
Die hoof van die skool, George Nell het ook, voor die vakansie, ‘n tjek van R15 000 aan die hoof van die Hoërskool Rustenburg geskenk om sodoende behoeftige gesinne by te staan.
(Daar het groot nood in dié gebied ontstaan as gevolg van die maande lange staking in die platinum bedryf. Die staking het onlangs tot ‘n einde gekom).



