Bome by Tweedy Park sal ook dien as erfenis
AfriForum fokus jaarliks op ’n boomspesie wat algemeen voorkom asook ’n skaars boomspesie.
AfriForum se Brakpan-tak het onlangs 10 bome aan die Tweedy Park-tehuis vir bejaardes as deel van die burgerregte-organisasie se boomplantmaandveldtog geskenk.
Die takbestuur en inwoners van die tehuis het dié vyf swart kareebome en vyf olienhoutbome Saterdag geplant.
Volgens taksekretaris Gerhard Cilliers beoog die organisasie om landwyd meer as 1 100 bome te plant.
“Daar is weinig min dinge in hierdie lewe wat ons mense so naby aan mekaar kan laat kom as die natuur, die buitelewe en ‘n tuin,” het Cilliers gesê.
“Bome is nie slegs ’n belangrike deel van die ekostelsel en ’n natuurlike hulpbron waarsonder niemand sal kan oorleef nie. Dit is ook ’n erfenis.”
“Bome verskaf suurstof, skaduwee en voedsel en dit is ook iets wat ons vir die nageslag agterlaat,” sê Cilliers.
AfriForum fokus jaarliks op ’n boomspesie wat algemeen voorkom asook ’n skaars boomspesie.
Die algemene boom vir 2017 is die blinkblaar-wag-’n-bietjie (Ziziphus mucronata) en die skaars boom is die ebbeboom (Euclea pseudebenus). AfriForum moedig dorpe aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewing sal aard, vandaar die plant van die karee- en olienhoutbome.
“Die tak moedig die gemeenskap aan om by die veldtog betrokke te raak en deel te word van ’n beter en groener toekoms,” het Cilliers gesê.
Lees ook:
AfriForum Brakpan spreek misnoeë uit nadat landmerkgebou brand
Tweedy Park inwoners ontvang pakkies



