Niks kry dié dinamiese vrou onder nie
Ondanks de feit dat sy die afgelope jaar ongekende teëspoed gehad het, is ‘n bejaarde vrou in Fochville steeds meer bedrywig as die meeste ander mense.
Ondanks de feit dat sy die afgelope jaar ongekende teëspoed gehad het, is ‘n bejaarde vrou in Fochville steeds meer bedrywig as die meeste ander mense.
Mev. Miem Esterhuyzen (80) kuier die afgelope tyd saam met haar man, Andries, in Fochville by haar dogter, mev Miemie Hattingh. Die afgelope net meer as ‘n jaar het Esterhuyzen geweldige mediese probleme gehad. In November verlede jaar, terwyl sy en haar man nog op hul plaas in Derby gewoon het, het Esterhuyzen haar regtertoon gestamp
en agtergekom dat dit net nie wil gesond word nie. Dokters het vasgestel dat sy diabetes het en tydens vyf
operasies, waarvan die laaste een in April vanjaar was, eers haar voet en later verdere dele van haar been
weens gangrene, wat ontstaan het nadat haar weefsel nie genoeg suurstof gekry het nie, geamputeer.
Die grootste deel van haar linkerbeen moes ook deur die loop van die jaar as gevolg van gangrene geamputeer
word.
“Ek het nie in my lewe gedink ek sou ooit sonder bene oor die weg moes kom nie,” het Esterhuyzen die afgelope week aan die Herald vertel. Die amputasies was vir haar ‘n geweldige skok.
Esterhuyzen is egter nie sommer enige tannie nie. Sy het 12 kinders grootgemaak en was daaraan gewoond om vir jare met net een helper vrugte van die sowat 7 000 vrugtebome op die gesin se plaas te pluk en tot sowat 2 000 konfyt per seisoen te verwerk. Daarby saam was sy ook ‘n voorslag houtsaer en was wyd bekend vir die netjiese planke wat sy gesag en verkoop het.
Sy was ook die enigste vrou wat as mampoer-stoker geregistreer was en het vir jare tydens elke nasionale mampoerfees by die Willem Prinsloo Landbou-museum met handevol toekennings weggestap. Sy het nooit ‘n
huishulp gehad nie en was voor die moeilikheid van die afgelope jaar ook nooit in die hospitaal nie.
Met só ‘n agtergrond was dit nie te lank voor Esterhuyzen weer aan die gang begin kom het nie. Sy het eers in
die hospitaal begin inkleur en hierna begin hekel, iets waarvoor sy vir jare nooit tyd gehad het nie. Ten tyde van
die Herald se besoek verlede week was haar tweede gehekelde blokkiesdeken byna klaar.
Sy was ook reeds weer agter ‘n pot besig om appelkooskonfyt, gemaak van vrugte wat haar kinders vir haar
van die plaas af aangery het, te kook.
Hoewel sy nie sommer meer by haar rekord van 130 bottels ‘n dag sal kom nie, is sy reeds weer aan die gang om
heelwat bottels vol te maak.
“Die mense in die hospitaal wou my nie glo toe ek vir hulle sê my ma sit self regop en is alweer met allerhande
goed besig nie,” vertel ‘n ander dogter, me. Emmie Badenhorst.
Volgens Esterhuyzen voel al die handewerk egter nie vir haar soos werk nie en is dit, veral die hekelwerk, eerder terapeuties.
“Dit maak die dag net soveel beter,” het sy vertel terwyl sy na van haar handewerk gekyk het.



