Bekende oud-verkeersbeampte ter ruste gelê
Vriende en familie het onlangs van ‘n geliefde oud-verkeersbeampte van die omgewing afskeid geneem.
Cobus van der Merwe het in 1988 by die Carletonville verkeersdepartement begin werk en is later tot superintendent bevorder. Hy het dié pos tot met sy bedanking in 2002 beklee. Hy het egter vier jaar gelede weer sy uniform uit die kas gehaal toe hy vir die munisipale kontrakteur wat spoedlokvalle in die omgewing hanteer, begin werk het.
Volgens sy vrou Petro, het Cobus op 22 Junie vanjaar ‘n knieg-operasie ondergaan. Hoewel dit goed met hom gegaan het toe hy vier dae later uit die hospitaal ontslaan is, is hy ‘n paar dae later met Covid-19 gediagnoseer. Hy is op 8 September in die intensiewe sorgeenheid van Mediclinic Potchefstroom aan Covid oorlede. Behalwe vir sy werk as verkeersbeampte, wat Cobus ook ‘n evangelis by die Volkskansel Bediening. Hy het as deel van dié werk kort voor sy operasie op 13 Junie sy dogter in die eg verbind.
Volgens ‘n jarelange kollega, die munisipale verkeershoof, Philip Olivier, was Cobus ‘n goeie, betroubare kollega wat oor baie jare ‘n baie goeie diens aan die gemeenskap verrig het. Hy is op 23 September in Meyerton ter ruste gelê. Hy word oorleef deur sy vrou en twee dogters, Cindi en Sonja, skoonseuns Ryno en Jaco, en twee kleindogters, Jahni en Jané.




