Oud-Carletonviller speel uithaler-krieket in Engeland
Hy was die afgelope seisoen die oorsese speler wat die meeste punte aangeteken het.
‘n Oud-leerling van Laerskool Dagbreek, James Wood, hou die dorp en sy alma mater se naam tans hoog op die krieketvelde in Engeland.
Nadat Wood verlede jaar ‘n kontrak ontvang het om professioneel vir die Greenside-klub te speel, het hy die afgelope seisoen sy krieketloopbaan by die Anfield Plain-klub voortgesit.
Hy het hom só goed van sy taak gekwyt dat hy as die speler aangewys is wat die meeste lopies tydens die liga aangeteken het. Meer as 200 spelers het aan dié liga deelgeneem.
Gedurende die seisoen het Wood ‘n allemintige 1 139 lopies vir die klub gemoker.
Sy indrukwekkende wedstrydstatistieke sluit in ‘n hoogste telling van 164 nie uit nie, met vier honderdtalle en vier vyftigtalle agter sy naam.
Dié uitsonderlike prestasies het hom ook die status besorg as die klub se oorsese speler met die hoogste telling tydens die liga.



