Alexis Nel (14), ‘n gr. agt-leerder aan Hoërskool Fochville en lid van die Bezalel Gimnasium net buite Fochville, het tydens die nasionale kragoptel kampioenskappe wat einde Maart by Laerskool Fochville gehou is, haar junior Protea-kleure in dié sport verwerf.
Sy het 75 kg in die “squat”, 45.5 kg in die “bench press” en 140.kg in die “deadlift” kategorieë gelig. Sy kwalifiseer om van 24 Augustus tot 3 September aan die internasionale kragoptel kampioenskappe in Istanbul in Turkye deel te neem.
Nóg ‘n kragopteller van Fochville, Braam Nel (15) het ook junior Protea-kleure tydens die nasionale kampioenskappe verwerf nadat hy 140 kg in die “squat”, 70 kg in die “bench press” en 180 kg in die “deadlift” kategorieë gelig het. Braam, ‘n leerder van Potchefstroom Gimnasium wat deur Johan (Joe) Smith afgerig word, gaan Suid-Afrika later vanjaar tydens die Afrika kragoptel kampioenskappe in Morokko verteenwoordig.
Gelukkig vir die twee atlete en hul ouers sal hulle deur die bekende Fochviller, Hannie Smith, wat weens sy posisie as die voorsitter van die Internsional Powerlifting Federation (IPF) se tegniese komitee by al die internasionale byeenkomste moet wees, vergesel word.
Alexis, wat deur die oud-nasionale kampioen Vicki Botha afgerig word, het intussen ook nóg ‘n groot prestasie behaal. Sy is as wenner in haar ouderdomsgroep (14 tot 15 jaar afdeling), tydens die nasionale kampioenskap vir die mees fikse “Crossfit”-atlete aangewys.
Sy het die titel ingepalm nadat sy van 6 tot 8 Augustus tydens dié kampioenskappe by die Crossfit Ground Zero gimnasium net buite Potchefstroom in nege verskillende items, wat van oefening met gewigte tot gimnastiek en boogskiet gewissel het, presteer het.







