Twee Dagbreek-leerlinge gekies vir Goue Leeus provinsiale span
Hulle gaan nog groot dinge bereik.
Laerskool Dagbreek het rede tot trots nadat twee van hul jong rugbytalente verlede week in ‘n Goue Leeus provinsiale span opgeneem is.
Reggardt Botha (o.12) en Ryan Genis (o.13) het hul plekke in die span verseker na suksesvolle deelname aan die provinsiale proewe. Hierdie erkenning plaas hulle onder die beste jong rugbyspelers in hul ouderdomsgroepe in die streek.
“Dit is ‘n besondere prestasie en Dagbreek is baie trots op die twee seuns. Ons is opgewonde om te sien watter hoogtes die seuns nog in die toekoms in die sport gaan bereik,” sê Colene Rudolph, woordvoerder van die skool.
Rugbytradisie lewendig gehou
Die skool se betrokkenheid by sport en die ontwikkeling van jong talent dra steeds vrugte, en hierdie jong atlete is uitstekende rolmodelle vir hul maats. Die Goue Leeus-verteenwoordiging bied hulle nou die kans om teen van die land se top skole te speel en waardevolle ervaring op te doen.
Dagbreek vier sportontwikkeling
Laerskool Dagbreek vier dié prestasie as ‘n bewys van hul toewyding aan sportontwikkeling en holistiese opvoeding. Die skoolgemeenskap ondersteun Reggardt en Ryan op hul reis na sporthoogtes, en daar word met afwagting uitgesien na hul deelname op provinsiale vlak.




