Local newsNews

Fetch Bark Park: ‘n Ontspannende hawe vir jou honde

"Ons beplan omtrent al vier jaar aan die projek," het Anelda Van Wyk opgemerk.

Kristel Fourie, Johan Naude en Anelda van Wyk, al drie eienaars van groot honde, het ‘n leemte in Potchefstroom se hondegemeenskap opgemerk.
“Daar is nêrens plek in Potch waar jy jou honde kan vat en hul leibande losmaak en hul in veiligheid laat rondhardloop nie,” som Anelda, die eienaar van Irish Wolfhounds, die leemte op.
Johan, die eienaar van ‘n Rifrug-Boerboel kruising wat by die 70 kg weeg, verduidelik dat dit onveilig is om met sy hond in die straat te stap aangesien die hond se gewig dit moeilik maak om haar van hekke en heinings waar ander honde is, weg te hou.
Kristel besit ‘n Pointer en voeg by dat vir jou honde se fisiese en psigiese gesondheid is dit noodsaaklik dat hul die geleentheid gegun word om sonder ‘n leiband rond te hardloop. “Ek en Anelda het al ‘n paar Sondae oral in die dorp rondgery op soek na plek om ons honde te laat hardloop. Ons het keer op keer onverrigter sake huis toe gegaan.”
“Onthou jy hoe het ons tydens Covid gevoel na ‘n paar maande van by die huis sit?” vra Anelda. “Dis presies hoe jou honde voel.”
Die drie diereliefhebbers het aan ‘n plan begin werk om ‘n nie-winsgewende hondepark te skep waar eienaars hul honde na hartelus kan laat hardloop en snuffel terwyl eersgenoemde die agterstallige e-posse antwoord of ‘n boek lees. Die beste deel van hierdie inisiatief is dat die trio ‘n seer oog in Potchefstroom as terrein wil gebruik.
Anelda, wat naby Peterson Park (die park oorkant Potchefstroom Hospitaal) bly, het reeds ‘n paar jaar tevore aansoek gedoen by die munisipaliteit om die park as niewinsgewende gronde te registreer en haar aansoek is aanvaar. “Die park is ‘n seer oog om verby te ry. Mens loop uit die hospitaal uit en dit is die eerste ding wat jy sien. Dit laat jou nog slegter voel.” Anelda voeg by dat daar haweloses in die geboue op die parkgronde bly wat ‘n gevaar inhou vir mense wat daar verby beweeg. “Dis ‘n goeie manier om die plek reg te trek,” merk Johan op.

Haweloses bly in die geboue in die park en hou ‘n gevaar vir die gemeenskap in. Foto: Verskaf.
Die park is ‘n seer oog in die gemeenskap. Foto: Verskaf.
Die park se gebreekte heining bied toegang vir haweloses om die park te bevuil. Foto: Verskaf.

Die drie bars byna uit hul nate van opgewondenheid oor die park en het baie groot planne vir die toekoms.

“Dink net: ‘n koffiewinkel met Wi-Fi, joga-klasse en ‘n fisioterapeut vir jou honde, hondeskoue, dieremarkte wat slegs produkte vir jou diere uitstal, werkswinkels en opleidingsklasse vir jou honde; daar is so baie wat ons met die park wil doen,” vertel Kristel. Sy vertel verder dat hul nie ‘n park beplan waar klomp honde saam gaan sosialiseer nie.

Alhoewel dit idillies klink, is dit nie ‘n goeie idee nie aangesien baie honde nie oor die weg gaan kom nie en groot manewales kan veroorsaak. “Ons beplan om met ‘n besprekingstelsel te werk. Jy bespreek tyd vir jou hond(e) om in die park te kom hardloop vir oefening en ontspanning.”
Voor daar werk gemaak kan word van al hierdie planne, moet die park eers beveilig en opgeruim word.

“Ons het reeds ‘n besigheid wat ons gaan help om die park op te ruim en skoon te maak, maar voor ons dit kan doen moet ons die heining om die park laat regmaak en ‘n sekuriteitsmaatskappy kry wat sal inkoop op die projek en sal help om die park te beveilig,” verduidelik Anelda.

Die betonheining wat tans die park omring is op plekke gebreek wat dit moontlik maak vir haweloses om die park binne te dring en te bevuil. Die drie het ‘n kwotasie van R10 000 gekry om die betonheining te laat herstel, maar benodig finansiering om hierdie eerste stap te neem.

“Ons wil diere-eienaars, diere-liefhebbers en besighede in Potchefstroom uitnooi om in te koop in hierdie projek. Dit gaan ‘n ligpunt in die donker word en ‘n veilige hawe vir jou en jou diere.”

Die drie nooi Potchefstromers uit om ‘n verniet “Fetch Bark Park” plakker by hul stalletjie te kom haal en meer van die projek uit te vind. Hul beplan om by Snowflake Mark asook Van Rooy Mark in die nabye toekoms uit te stal.

Kontak Kristel by 082 429 9395 of Anelda by 083 355 0394 vir meer inligting.

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button