Drie drawwers van Carletonville het die afgelope naweek uitstekend tydens ‘n uitmergelende ultra-marathon gevaar.
Cornel Metcalfe, Johan Bekker en Manuel Alves het op 7 en 8 Julie die ELB Washie 100-Miler aangepak.
Dié wedren is oor 100 myl, oftewel ‘n uitmergenlende 160 km, tussen Port Alfred en Oos-Londen afgelê. Dit was die
41ste keer wat die wedloop aangebied is.
Die wedloop, wat as die “Koning van 100-mylers” beskou word, het vanjaar 76 atlete gelok, waarvan net 66 op die
ou einde die wedloop voltooi het. Die wedloop is na Granville Washington “Washie” Whitfield vernoem. Dit is deur
sy seun, Lionel Whitfield, ‘n lid van die Buffs Marathonklub wat elke jaar die wedren aanbied, geopen. Die wedren
word tradisioneel met die sanger Chris Rea se lied “Road to Hell” begin.
Cornel Metcalfe het die vroue-afdeling van die wedren gewen toe sy in ‘n tyd van 18:51:47 oor die wenstreep is.
Johan Bekker, wat die wedloop in 2010 gewen het, het dit vanjaar in ‘n tyd van 19:38:42 voltooi. Manuel Alves het
die afstand in ‘n tyd van 19:38:42 platgedraf.
Die Carletonvillers het ook die spantrofee ingepalm.



