Callies die Goue Leeus kampioene
Hoërskool Carletonville se eerste rugbyspan het die afgelope naweek hul ondersteuners super trots gemaak.
Die span het daarin geslaag om Saterdag, 23 Julie op Randfontein Rugbyklub se velde as die Goue Leeus kampioene in afdeling 4, die afdeling vir middelskole, gekroon te word.
Callies het Hoërskool Allen Glen van Roodepoort met 38 – 28 geklop. Zane Eloff is ook as “Die man van die wedstryd” aangewys.
Wat die prestasie nóg meer spesiaal maak, is dat dit die eerste keer in sewe jaar is wat Callies vir Allen Glen gewen het. Callies het vanjaar dié prestasie sommer drie keer behaal toe hulle Allen Glen in die uitspele twee keer op die opponente se tuisveld en een keer in die finaal gewen het. Callies het ook die rekord van 20 onoorwonne wedstryde behaal.
Volgens Callies se woordvoerder, mev. Sandra Venter, is vanjaar se eerste span ‘n groep uiters toegewyde seuns wat werklik vir mekaar speel en ‘n besonderse band tussen mekaar gesmee het. Die span speel nou verder in die Virseker Beker-kompetisie waar hulle eerstens teen die wenners van die Valke-afdeling, Hoërskool Carel De Wet, te staan kom.
Intussen het Calles se o.15-span ook die afgelope Saterdag in die finaal van hul liga gespeel. Hulle moes egter ongelukkig die knie teen Allen Glen buig.
“Julle seuns moet onthou dat julle die talent het om te wen en daar is altyd volgende jaar ook,” het een van hul afrigters, mnr. Deon le Roux na afloop van die wedstryd gesê.
“Ons wil ook graag alle spelers, ouers, ondersteuners en veral die afrigters, mnr. SP Botha, Mossie Lewitton en Deon le Roux van die 1ste span en mnr. Johan Bezuidenhout en Tjaart Nortje by die o.15’s bedank vir hulle opoffering, kennis, geduld, ondersteuning en lojaliteit teenoor mekaar. Julle liefde vir die skool, spel en kinders is ‘n wenresep vir ‘n wonderlike seisoen,” sê Venter.





