Dorado-hengelaars se katrolle sing
Klublede was wéér deel van nasionale spanne en hul groot nasionale kompetisie, die Billfish 15000, vind volgende week plaas.
Lede van die Dorado Skibootklub van Carletonville is steeds besig om te wys dat hulle van die beste snawelvis hengelaars in die land is.
Verskeie van die klub se lede het van 7 tot 11 Oktober in onplesierige weer aan die nasionale ligtegerei snawelvishengel kampioenskap op Sodwana deelgeneem. Hengelaars moes groot snawelvisse met lyn wat net ‘n breekkrag van 10kg het, uit die water trek voor die visse dan dadelik weer losgelaat is. Die Dorado Skibootklub-lede Mariette Hendriksz, Henry Gouws en Pine Pienaar het as die Gauteng-span op die boot Fantesea met skipper Riaan Janse van Vuuren agter die stuur deelgeneem.
Die span het in die algehele vyfde plek geëindig ná Pienaar op 11 Oktober ‘n seilvis boot toe gebring het.
Tydens dieselfde kampioenskap was Jannas Hendriksz die kaptein van die nasionale SADSAA (South African Deep Sea Angling Association) wat ook meegeding het. Die ander spanlede was Leon Orsmond (Suid-Transvaal) en Stiaan du Plooy (Noord- Transvaal). Hulle het op die boot Kit-Kat met Jaco Hendriksz as skipper deelgeneem.
Dié span het met die algehele sesde plek weggevaar na hulle ook op 11 Oktober ‘n seilvis gevang het.Intussen bied Dorado Skibootklub weer volgende week, van 11 tot 15 November, die jaarlikse Billfish 15 000 kompetisie in Sodwana aan. Dit is steeds die grootste snawelvis hengelkompetisie in die land en altesaam 70 spanne van regoor die land gaan om pryse ter waarde van ongeveer R2.5m meeding.
Die eerste prys is ‘n boot ter waarde van R750 000. Intussen gaan Jannes hierna, van 18 tot 22 November, sy staal as deel van die nasionale span by die nasionale swaargerei kampioenskap wys. Die kampioenskap vind ook by Sodwana plaas.
Dit sal die vyfde keer wees dat Jannas (24) deel van ‘n nasionale span is.



