Inwoners in ‘n deel van Fochville is weer die afgelope week warm onder die kraag, nadat groot hoeveelhede water
voortdurend uit die munisipale reservoir stroom.
‘n Raadslid van dié dorp, me. Annett Venter, sê inwoners het haar die afgelope naweek voortdurend gekontak om
oor die probleem te kla.
Vroeg Saterdagoggend het verskeie inwoners begin kla omdat water in Tambotistraat afstroom. Hoewel Venter
die munisipaliteit van die probleem in kennis gestel het, het die lekkasie voortgeduur.
Volgens inligting wat aan haar verskaf is, het die munisipaliteit wel verlede Donderdag ‘n lekkende pyp by die
reservoir herstel.
Die lek van water het egter later weer só toegeneem dat ‘n ketelmaker Saterdagmiddag net voor 16:00 weer na die
reservoir ontbied is.
Teen Sondag het groot hoeveelhede water egter steeds in Bloekom- en Tambotistraat afgestroom.
“Ek wen mens kon die water opvang. Ons woon in ‘n droë land en ons kan net nie bekostig dat kosbare water so
vermors word nie. Die inwoners is woedend oor wat aan die gebeur is,” het Venter gekla.
Die probleem het egter bly voortduur en teen Woensdagoggend 26 April het water steeds in Bloekomstraat afgestroom.
Die Herald het die munisipaliteit oor die probleme uitgevra. Volgens die munisipaliteit het ‘n drukreguleringsklep
by die reservoir probleme gegee en veroorsaak dat die klep en ‘n draai in ‘n waterpyp gebreek het. Intussen het ‘n
pakking (”gasket”) by die klein reservoir ook gewanfunksioneer, wat tot ’n verdere lekkasie gelei het. Hoewel werk wel gedoen is om sulke probleme te voorkom, het beweging op die stelsel blykbaar tot die lekkasies bygedra.
Die munisipaliteit het egter belowe dat ekstra ondersteuning egter gemaak sal word om die waterpyp te stabiliseer.
Hulle hoop dat dié stap ‘n langtermynoplossing vir die probleem sal gee.



