Geliefde ekonomie onderwyser van Hoërskool Alberton René Pretorius het haar stryd teen jare-lange kanker op 1 Julie verloor.
Volgens haar man, Johan, is sy in 1997 die eerste keer gediagnoseer en haar dapper stryd teen kanker het begin.
Haar roudiens was op 7 Julie vanuit die Doxa Deo Gemeente Meyersdal gehou en weens Covid-19 regulasies kon net ’n sekere hoeveelheid mense die diens bywoon. Daar was ook ’n lewendige uitsending van die diens.
’n Merkwaardige vrou
René is in 1964 in Alberton gebore, waar sy en haar broer, Steve, groot geword het.
Sy was ’n formidabele klavierspeler wat op 13-jarige ouderdom gekies was om vir die Suid-Afrikaanse Simfonie-orkes pianis te wees. Sy het ook in haar matriekjaar die Royal Acadamy beurs gewen om musiek in Engeland te studeer.
Sy het haar hoërskoolloopbaan by Hoërskool Alberton voltooi en toe as ’n onderwyser begin studeer.
Op 25 Junie in 2002 het sy trou beloof aan Johan en hulle het twee dogters en twee kleinkinders.
René was vir 35 jaar betrokke by Allies en sy het diep spore in baie se harte getrap.
Onvoorwaardelike liefde

“René was eerlik en opreg, liefdevol en enige goeie menslike kwaliteit waaraan jy kan dink was deel van haar menswees. Sy het die mooiste persoonlikheid gehad,” het Johan vertel.
“Ek gaan alles van haar mis. Veral haar onvoorwaarlike liefde vir my en ons gesin. Ons huis se klavier sal ook nou vir altyd stil wees. Sy het byna daagliks vir my gespeel.”
René laat haar man Johan, haar dogters, skoonseuns, kleinkinders, ma en broer agter.
Bedankings

“Dankie aan die personeel by Hoërskool Alberton en oudleerders van die skool. Dankie aan my familie en René se familie vir al die hulp en bystand en boodskappe, asook Dr Rodriquez, René se onkoloog, vir al die kere dat sy ons op hoogte gehou het toe ons René nie kon sien nie,” het Johan gesê.
Boodskappe van oud-leerders:
• Monica L Supra: “Juffrou René Pretorius – my hart is verskriklik seer vanaand. Die eerste dag wat ek in haar klas by Hoërskool Alberton ingestap het, was ek verskriklik bang (het gehoor sy was die kwaaiste onderwyseres ooit).
Toe ek aan die einde van my eerste ekonomieklas daar uitstap, het ek geweet ek gaan na skool iets in die vakgebied studeer! Juffrou Otto – soos ons haar leer ken het – het ’n groot liefde vir ekonomie by my ingeboesem.
Sy het ons altyd gedruk om beter te presteer, maar dit altyd op ’n positiewe manier gedoen, ’n eienskap waarvoor ek ongelooflik baie respek het en wat haar tot vandag toe nog een van die heel beste onderwysers in my oë maak.
Juffrou weet dit nie, maar ek het nou weer ekonomie as een van my vakke gekies en is besig daarmee. Ek dink die laaste twee weke so baie terug aan die dinge wat ek in juffrou se klas geleer het – nie net ekonomie nie – maar ook baie lewenslesse wat my altyd sal bybly.
En ander goed, soos juffrou se naels wat elke dag ’n ander kleur was, of die rol toiletpapier wat al die kleure onder die son was wanneer dit gebruik was om die truprojektor skoon te maak. ’n Groot gees het ons vandag verlaat. Rus in al die vrede wat juffrou verdien. Baie liefde.”
• Carel Steinmann: “Ek besef nou eers hoe baie juffrou Pretorius my geleer het en hoeveel ek soos sy onderrig gee. Ek het altyd aan haar lippe gehang, nie net oor haar ekonomiese kennis nie, maar oor haar wye algemene kennis. Ek probeer my lesse elke dag verryk.
Ek het elke dag die wisselkoerse afgeskryf en elke minister se naam het ons geken en kon dit reg spel ook. Sy was ’n juffrou duisend en haar lesse en manier van klas gee sal deur baie van haar vorige leerders voortleef! Mag sy in vrede rus!”

• Nicole Pieters: “My hart is in stukke! Die was ’n onderwyser wie diep spore in my hart getrap het. Rus saggies juffrou.”
• Klarissa Botes: “Liefste, liefste Juf René Pretorius…Waar begin ek… vandag is so ’n hartseer dag in die natuur, maar wanneer ek dink aan al die vreugde en waarde wat u toegevoeg het aan elkeen van ons se lewens kry my hart alreeds ’n hupstoot.
Ek sal nooit die eerste keer vergeet wat ek u en meneer ontmoet het nie. Ek’t dadelik geweet ek is baie geseëend! Al die hope pret wat ons in dekor gehad het, saal openinge, ons heerlike kuiertjies, geselsies en tye wat ons saam gelag en gehuil het…
Meeste mense droom om eendag hulle helde te ontmoet, miskien ’n bekende TV-ster of iemand wat geskiedenis gemaak het.
Ek was so geseënd om my kunsheld te ontmoet in lewende lywe. U en meneer het my help ontdek dat ek eintlik ’n kunstenaar is en my al die jare inspireer, bygestaan en aangemoedig om my kunsdroom uit te leef! Ek het elke skoolvakansie omgewens net om terug te kan gaan skool toe net om u weer te kan sien!
Selfs na skool het u steeds baie waarde toegevoeg aan ons lewens, nie net as ’n onnie nie maar as ’n vriendin en u en meneer en gesin was en sal altyd familie vir ons wees. Oupa en Ouma was altyd net so opgewonde soos ek wanneer ek sê ons gaan bietjie saam kuier.

Juffrou het elke keer saam met my in my vreugde gedeel wanneer ek ’n nuwe mylpaal in my lewe bereik het, veral die dag toe ek u opgewonde bel met die goeie nuus dat die Here my geseën het met my lewensmaat. Die Here het elkeen van ons werklik geseën met u teenwoordigheid in ons lewens. Kon nie vir ’n beter onderwyser of vriendin gevra het nie…
Baie baie dankie vir al die jare se liefde, omgee, ondersteuning en vriendskap, juffrou. U sal altyd in ons harte bly en ek sal ons God nooit genoeg kan dank vir dit wat u en u pragtige gesin in ons lewens beteken nie… Rus in vrede, juffrou, en al ons liefde.”




