
Wessels Greyling is op 10 November in Heidelberg Landdroshof vrygespreek op alle aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, asook klagte van opsetlike saakbeskadiging.
Dit kom nadat Greyling (35) op 5 Desember verlede jaar op die hoewe van sy voormalige meisie se ouerhuis in hegtenis geneem is ná ‘n vuisgeveg glo tussen hom en die ouer man uitgebreek het.
Elsa en Klaus Becker het getuig dat Greyling hulle aangeval het nadat hy en hul dogter glo vroeër die oggend ‘n argument gehad het.
Greyling het op 10 November as deel van sy getuienis aangevoer dat vuiste oor en weer tussen hom en Klaus binne én buite die huis geklap het. Hy het gesê dat hy nie vier mense (twee van die egpaar se nabye familielede het ook by die huis opgedaag en aangevoer dat hulle onder die beskuldigde se vuiste deurgeloop het) aangerand het nie. Hy het gesê dat hy nie ‘n gewelddadige persoon is nie.
Landdros Gerhard Strydom het in sy uitspraak gesê dat die vier mense wat teen Greyling in die saak getuig het se getuienis mekaar ernstig weerspreek het. “Mens kan verwag dat vier mense se siening van die gebeure van die aand klein verskille sal toon, maar hulle kon nie eers ooreenkom oor waar in die huis die geveg ontstaan het en waar dit geëindig het nie. Foto’s wat aan die hof voorgelê is, staaf nie die getuienis van beserings wat opgedoen is nie en daar is ook nie sekerheid oor wat presies in die huis beskadig is nie.
“Ek is steeds nie seker dat die volle waarheid in dié saak uitgekom het nie, maar ek vind u (Greyling se) weergawe oor wat daar gebeur het nie vreemd nie en kan dit nie as vals verwerp nie. Ek is nie tevrede dat die aanklagte teen u bewys is nie, en daarom vind ek u onskuldig op alle aanklagte,” het Mnr Strydom afgesluit.
Advokaat Freddie van der Merwe het die verdediging waargeneem.



