Strydom mik vir meer as een goue medalje by Olimpiese spele
Volkie swemmer mik hoog, bly nederig
Waar van sy voorgangers soos Ryk Neethling en Roland Schoeman dalk Suid-Afrika se mees geliefde borsslag ster Penny Heyns as hul rolmodel gebruik het, het 12-jarige Cristopher Strydom reeds vroeg besluit dat hy eerder in die voetstappe van die heel beste wil stap, oftewel swem.
Sonder om te skroom verduidelik Cristopher dat hy eendag net soveel goue Olimpiese medaljes soos die Amerikaner Michael Phelps wil inpalm. Terwyl Heyns die land se harte in Atlanta (1996) met goud in die 100m en 200m borsslag gesteel het, – dit was die eerste keer in die geskiedenis dat ‘n vrou so iets vermag het – het Phelps later die wêreld se uitgangspunt oor die sport verander toe hy meer as ‘n dekade na Heyns (2008) in Beijing ‘n asemrowende agt goue medaljes in die water ingepalm het.
Phelps het sy loopbaan met 28 goue medaljes (die meeste vir een man in die geskiedenis van die Olimpiese Spele) afgesluit en dit is baie onwaarskynlik dat enige sportman of -vrou ooit weer so baie medaljes in hul loopbaan sal oes.
Kyk ‘n video Cristopher Strydom – Nelspruit 100M Free 2019
Een ding is egter seker en dit is dat Cristopher ‘n swemmer is wat sy bes gaan doen om die onmoontlike moontlik te maak. Hy het reeds verskeie provinsiale en nasionale rekords sy eie gemaak en hoop om volgende week tydens die SA Junior Nasionale Kampioenskappe in Durban nog ‘n paar rekords te verbeter.
Hoewel hy reeds ‘n bakkievrag medaljes deur die jare gewen het, is dié kampioenskappe uniek in die sin dat dit die eerste dat hy in sy eie ouderdomsgroep gaan meeding – en nie teen ouer swemmers nie. Rekords is egter nie so belangrik vir Volkies se swemsensasie nie.
“Ek sal soms, as ek weet my tye is goed en naby, ‘n doelwit stel om ‘n rekord te verbeter, maar dit is nie altyd die geval nie. Die belangrikste nou is om net my beste te lewer,” het Cristopher verduidelik.
Sy oefenprogram van vier tot ses dae ‘n week vind reeds vir jare onder die bekwame leiding van afrigter Thilde Victor-De Kock van Dynamo Aquatics plaas en hy is haar ewig dankbaar dat sy hom die geleentheid gebied het om sy passie vir die sport uit te leef.
Toe HERAUT hom vra wat die belangrikste les is wat hy al geleer het, het hy in ‘n oogwink gesê: “Om nie grootkop te wees nie.”
Lees ook Christopher swem tot in nommer een posisie
Swem is uiteraard iets wat hy geniet en hoewel hy weet dat hy teen die bestes kompeteer, is dit vir hom net so belangrik dat hy dit bly geniet anders raak dit net harde werk.
Cristopher kon skaars loop toe hy sy passie vir swem ontdek het. Hy was maar drie jaar oud toe hy vir sy eerste swemles gegaan het en, met sy Olimpiese droom in ag, kan ons bekendmaak dat Phelps reeds ‘n sewejarige was toe hy die sport ontdek het. Hou gerus dié spasie dop ouens!
Hoewel wen ‘n gewoonte vir Cristopher geword het – daar is amper nie meer plek op sy kamermuur oor om al die medaljes te hang nie – laat hy mens gou besef dat hy uiteindelik ook net ‘n seun is wat binnekort die tienerwêreld moet aandurf. Hy het al die normale kwale en geite – hy swem net meer as meeste van sy maats.
Wanneer hy nie in die swembad is nie, is hy meeste van die tyd agter sy skoolboeke vasgenael. Hy is lief vir Geskiedenis en Geografie en beide die vakke behoort hom handig te pas te kom wanneer hy eendag die internasionale swemarena betree. Swem en skoolwerk is op die stadium vir hom alles, maar daar moet ook tyd vir ontspanning gemaak word.
Hy geniet ‘n goeie Rocky of James Bond film op sy tyd en volgens sy rolmodel buite die water, sy ma Marie, mag hy dalk binnekort in ‘n boekwurm verander.
Lees ook Victor Aquantum swemmers bring medaljes huis toe
“Cristopher wou graag Phelps se boek gehad het, maar ek het besluit dat hy eerder by Chad le Clos se biografie kan begin. Dit is so ‘n paar honderd bladsye minder, ” vertel Marie wat ook ‘n kranige hokkiespeler op haar dag was.
Dit is duidelik soos daglig dat Cristopher sy sport geniet en dat dit nog baie deure vir hom gaan oopmaak. Dit is dan ook fantasties dat hy ingestem het dat HERAUT die eerste eksklusiewe onderhoud met hom gaan voer wanneer hy van die 2024 Jeug Olimpiese Spele terugkeer.
| Volg ons op: | ||
![]() |











