Rekordgetal Gauteng-kleure vir Sensei Barnard se karatekas
Plaaslike karatekas het in 65 afdelings 39 medaljes verower en ‘n rekordgetal van 49 van dié karatekas het Gauteng-kleure verwerf.
Die Gauteng provinsiale SA JKA kampioenskappe en proewe het op 15 en 16 Maart in die Ellispark Arena, Johannesburg plaasgevind waar verskeie karatekas van die Sensei Bernard Karateklubs (Heidelberg, Nigel en Balfour) deelgeneem het.
Die karatekas berei nou voor vir die nasionale kampioenskappe wat op 25 en 26 Mei plaasvind. Sensei Bernard Raubenheimer (hoofinstrukteur) is baie trots op sy karatekas se prestasies en sê dat die klubs sedert 2018 merkwaardige groei getoon het. “Waar 35 karatekas verlede jaar Gauteng-kleure verwerf het, staan ons vanjaar op 68 karatekas wat hul Gauteng-kleure trots dra,” het hy gesê. Sy klubs word as van die sterkste klubs in die land gesien en hoe dan anders met ‘n klub wat alreeds die afgelope 45 jaar in Heidelberg bestaan.
Sensei Bernard is die afgelope 45 jaar by karate betrokke en beskik oor ‘n vyfde dan. Hy tree sedert 1988 as afrigter op en onder sy bekwame leiding het meer as 200 karatekas al hul swart gordels verwerf. Hyself is besig om voor te berei vir sy sesde dan gradering wat in 2021 in Japan sal plaasvind. Verder op Sensei Bernard se indrukwekkende CV is die kwalifikasie as internasionaal gekwalifiseerde afrigter, skeidsregter en eksaminator.
Tans is hy ‘n hoogs aangeskrewe skeidsregter en een van slegs 10 A-klas internasionale skeidsregters in die SA JKA-groep. Hy sal weer as skeidsregter tydens die Wêreldkampioenskappe in Japan in 2020 optree.

“Karate help veral ook om ‘n persoon se konsentrasie, fiksheid, selfvertroue, koördinasie, fokus, sosiale interaksie sowel as selfverdediging-tegnieke te verskerp,” sê Sensei Bernard.
Hy sê verder dat karate veral jong kinders se motoriese ontwikkeling verbeter. Karatekas leer hoe om karate se vyf grondbeginsels wat karakter, opregtheid, inspanning, gedrag en selfbeheersing behels toe te pas en uit te leef. Karate is ‘n leefstyl en word perfek opgesom in die woorde van Shihan Gichunfunakoshi (stigter van Shotokan Karate) waar hy sê “The true meaning of karate demands that in the daily life, one’s mind and body be trained and developed in a spirit of humility and that in critical times, on be devoted utterly to the cause of justice.”

Sensei Bernard Karateklubs oefen op die volgende dae: Heidelberg – elke Dinsdag en Donderdag by Hoër Volkskool ; Nigel – elke Maandag en Woensdag in die saal van die Kenmekaar Dienssentrum vir Bejaardes; en Balfour se karatekas oefen ook Maandae en Woensdae by Balfour Hoër- en Laerskool. Alle ouderdomme vanaf 4-jaar is welkom. Kinders vanaf vier tot ses jaar (voorskool) word as Dinkies afgerig.
Vir meer inligting oor sy klubs, skakel Sensei Bernard by 083 489 8231.
| Volg ons op: | ||
![]() |




