Dié engele bring versagting
Die Angels werk nou saam met ander organisasies in die dorp en Lesedi Community Centre help hulle ook met kospakkies.
‘n Groep plaaslike vroue ontferm hulle al jare oor minderbevoorregte mede-inwoners en sonder hierdie dames se barmhartigheid en harde werk, sou verskeie gesinne in Rensburg nie kos gehad het nie.
Rienie Botha, haar suster Lizette Steyn en ma Liza Steyn werk saam met nog vroue onder die naam Zandunay’s Angels om te verseker dat nie net die gesinne versorg is nie, maar dat daar twee maal ‘n jaar (in die winter en oor Kerstyd) ‘n lekker bederf funksie vir Rensburg se bejaardes en kinders wat swaarkry, aangebied word.
Rienie vertel dat sy self uit ‘n slegte verlede en huwelik kom, waar sy en haar kinders nie ‘n heenkome gehad het nie en daar baie dae was dat hulle honger moes gaan slaap. “Die dag toe ek op my voete kom, het ek besluit nooit weer nie en dat ek sou doen wat ek kon om ander mense te help,” het Rienie gesê.
Die Angels werk nou saam met ander organisasies in die dorp en Lesedi Community Centre help hulle ook met kospakkies.
Die organisasie (hulle is PBO geregistreer en skenkings kan van belasting teruggeëis word) benodig die publiek se hulp met kosskenkings, bababenodigdhede (veral doeke, melk en klere), komberse, kussings, wintersklere (enige grootte mans-, dames- en kinderklere) of enige huishoudelike items wat deur gesinne gebruik kan word.
Indien jy met enige skenkings kan help, kan Rienie by 073 656 6343 geskakel word.
| Volg ons op: | ||
![]() |




