Bejaardes stap vir fondse
Nigel Tuiste vir Bejaardes het op 2 November te midde van dreigende onweerswolke hul jaarlikse pretloop vir fondsinsameling aangebied waartydens deelnemers vanaf die tuiste se perseel tot by die Hervormde Kerk in Scarboroughlaan gestap het.
Die verrigtinge is met ‘n gebed deur Pieter Smit (oordbestuurder) geopen, waarna die tuiste se twee oudste inwoners Sannie Smit (99) en Marie Coetzee (99) die lint geknip het.

Bejaardes het nie geskroom om hul looprame en rolstoele vir die pretloop in te span nie en ongeveer 55 deelnemers (wat familie en personeel insluit) het meegedoen.
Elke inwoner is volgens sy of haar ouderdom in randwaarde geborg en volgens die tuiste se finansiële bestuurder Ria Alberts, het die pretloop nagenoeg R11 000 opgelewer, wat weer in die tuiste teruggeploeg word deur die aankoop van nuwe breekware en linne.
Na afloop het die deelnemers ‘n musiekvertoning in die tuiste se saal geniet, waar verversings en koeldrank aan die langasems bedien is.
Alberts het almal wat by die pretloop betrokke was en dit ruimhartig ondersteun het, namens Nigel Tuiste vir Bejaardes bedank.




