Local newsNewsUpdate

Heidelberger draai by dood om

Michael Hough is dankbaar dat hy lewe.

Michael Hough (69) het by die dood omgedraai en Life Suikerbosrand Hospitaalse intensiewesorg eenheid noem hom hul wonderwerk van die jaar.
Sy hart het drie keer gaan staan en hy het selfs vir God (in sy onderbewussyn) gesê dat indien dit sy tyd is, Hy hom maar kan wegvat. Dokters het ook aan sy familie gesê dat hulle moet kom groet.

Michael wat op 1 November uiteindelik tuis gekom het, sê hy glo dit is ‘n wonderwerk van God dat hy lewe.
Hy is op 15 Junie in Life Suikerbosrand Hospitaal opgeneem nadat hy erge maagpyn gekry het.
Die volgende dag (op Vadersdag) het hy deurmekaar begin raak en kon nie kos sluk nie. Hy het gesukkel om asem te kry en dokters het bevind dat ‘n bloedklont deur sy long gegaan het.

Die internis het besluit om op 3 Julie te opereer nadat sy ingewande ophou funksioneer het en hulle nie die probleem kon vind nie. Met die operasie het hulle besef dat sy dunderm geperforeer was en 30cm van sy derm moes verwyder word.

 

Die operasie was suksesvol, maar terwyl Michael nog in teater was, het sy hart drie keer gaan staan. Michael sê hy kan van daardie oomblik nie veel onthou nie. “Ek het gevoel ek is besig om dood te gaan en het toe met God gepraat,
maar dit was nie Sy wil dat ek moes sterf nie,” het ‘n emosionele Michael aan HERAUT by sy huis in Rensburg vertel.
Ná die aanvanklike skok het dit beter begin gaan en hy is na Life New Kensington Kliniek vir rehabilitasie gestuur. Terwyl dit aanvanklik goed met die rehabilitasie gegaan het, het Michael skielik ‘n skerp pyn in sy lies ondervind en gesukkel om sy been te beweeg. Hy is toe op 28 Oktober na Netcare N17 Hospitaal oorgeplaas waar bevind is dat daar
nog ‘n bloedklont in sy lies is. Dit is egter vinnig onder beheer gebring en vier dae later kon hy huis toe gaan.
Michael is ‘n bekende gesig in die omgewing wat 21 jaar lank as ouditeur by Eskom in Grootvlei gewerk het. Hy en sy gesin het in 1987 na Heidelberg verhuis waar hy vir BAT vir 17 jaar gewerk het voor hy afgetree het.
Hy sê hoewel hy ‘n diabeet is en sy bloeddruk bietjie hoog is, het hy nooit eers verkoue gekry nie. Dit was vir hom erg om so lank in die hospitaal te bly en hy erken dat hy soms moedeloos geword het. Hy was ‘n man wat die skaal op 125kg laat stilstaan het. Nou weeg hy 90kg.
Michael sukkel om te loop en het nie gevoel in sy linkerbeen (as gevolg van die bloedklont in sy lies) nie, maar sy vrou Riana en hul dogter staan hom by. Hy bedank die personeel van Life Suikerbosrand Hospitaal wat hom so goed behandel het. “Hulle het werklik moeite vir my gedoen en gee vir hul pasiënte om. Selfs die skoonmakers het elke
dag ‘n draai kom maak om te hoor hoe dit met my gaan,” het Michael vertel.
Die gesin bedank al die inwoners wat daagliks boodskappe gestuur en telefoonoproepe gemaak het. “Selfs ‘n onbekende man het eendag in die hospitaal vir my kom vra of hy vir my kan bid,” het Michael afgesluit.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button