Oom Wollie se hout speelgoed
Wollie Wolmarans (Snr) maak alles van ou Jurgens woonwaens tot toiletrolhouers en speel-gewere.

Wollie Wolmarans (83), bekende afgetrede pastoor hou homself deesdae besig deur pragtige hout speelgoed te maak. Wollie is vir jare lank veral bekend in die dorp vir sy sagte hart en vriendelike persoonlikheid.
Hy het besluit om net na sy aftrede ‘n nuwe stokperdjie aan te pak en model-skaal voertuie en osse-waens uit hout te bou. Sy werk word definitief nie afgejaag nie en kan mens die kwaliteit en detail van sy projekte vanaf ‘n afstand waarneem.
Wollie maak alles van ou Jurgens woonwaens tot toiletrolhouers en speel-gewere. Hy kan ook enige houtwerkprojek aanpak volgens die kliënt se voorkeer. Wollie het sy kunswerk regoor die wêreld al verkoop en is veral in groot aanvraag in lande soos Amerika, Ysland en Engeland.
Die fondse wat Wollie tydens die verkoop van dié pragtige speelgoed insamel, word gebruik om hom en sy vrou se vakansie na die Kruger Wildtuin een keer per jaar te betaal.
“Ek sit regtig baie tyd en moeite in my werk en bou alles met liefde. Elke projek is vir my belangrik en sal ek werk tot alles perfek uitdraai,” het hy vertel. Wollie sal die naweek van 6 Desember sy pragtige kunswerk by die Nagmark uitstal, en word die gemeenskap genooi om hom te ondersteun.
Vir meer inligting oor Oom Wollie se hout speelgoed, kan hy by 082 302 6166 geskakel word.




