Liefde ‘Kosmos niks’ – skenkings benodig
NG Kerk Rensburg sien om na behoeftige gesinne.
Die Kosmos barmhartigheidsprojek sien om na behoeftige gesinne in Rensburg. Margie Grobler wat die projek saam met gemeentelede van die Rensburg NG Kerk bedryf, sê hulle het op die naam besluit “want liefde kos mos niks.”
Nie net voorsien hulle aan 45 gesinne kruidenierspakke nie, maar ‘n kleuterskool waar 10 kinders gratis onderrig word, word ook op die kerk se perseel bedryf. Klere, toiletware en skoolklere en -benodigdhede word voorsien.
Kosmos bied verder werkswinkels aan vroue waar hulle vaardighede geleer word sodat hulle ‘n inkomste kan verdien.
Om die projek te laat werk het hulle egter skenkings en borgskappe van die publiek en besighede nodig.
Tans is daar 27 kinders in die gemeenskap wat vir die nuwe skooljaar klere, tasse, skryfbehoeftes, skoolskoene, kouse, kosblikke, penneblikke en ander skoolbenodigdhede gaan nodig kry. Klere van Laerskool AG Visser en Hoër Volkskool word benodig.
Die kleuterskool het ‘n behoefte aan verf, klei, legkaarte en speelapparaat (vir buite sowel as binne). Nie-bederfbare kos word ook verwelkom.
Indien jy meer oor die projek wil uitvind of met donasies en skenkings wil help, kan Margie by 074 586 4927 geskakel word.



