Local newsNewsUpdate

Wees dapper soos Spartacus hoor Heidelberg Parabats

Ronnie Claassen besoek Suikerbosrand Canopy vir interessante praatjie.

Wees soos ‘n Spartacus van ouds teenoor jou vriende en staan op wanneer een in die moeilikheid is. Dit was die boodskap van Ronnie Claassen van die Parabat Veterane Organisasie (PVO) wat die Suikerbosrand Canopy op 10 November by die Ou Tronk besoek het.

Claassen was een van net 15 lede van die ou Suid-Afrikaanse Weermag wat in 1960 ‘n valskermspring- en instrukteurskursus in Engeland bygewoon het. Claassen en Ysterman van Niekerk is die enigste oorlewendes van die oorspronklike 15. Hy was ook die stigterslid van 1 Valskermbataljon in 1961.

 

Tydens sy aftrede was hy die persoonlike assistent van die bevelvoerder van die Kommandement Noord-Transvaal met die rang van kommandant. Tydens sy dienstydperk in die Suid-Afrikaanse Leër het hy nege medaljes ontvang waaronder die Suiderkruis, Pro Merito, Militêre Meriete en Pro Patria (met Cunene gespe).

Claassen het vertel van Spartacus, die Romeinse slaaf wat as gladiator opgelei is. Hy het ontsnap en ‘n rebellie teen die Romeine gelei. Hulle het groot welslae beleef, maar toe die groep uiteindelik vasgetrek is, het die Romeine nie presies geweet watter een die leier Spartacus is nie.

 

Toe hulle vra dat Spartacus moet vorentoe tree, het sy manskappe een na die ander vorentoe getree en verklaar “Ek is Spartacus.” Hulle het vir hul lojaliteit met hul lewens geboet toe 6 000 rebelle langs die hoofpad na Rome gekruisig is.

Claassen het gesê dit is hoe elke persoon teenoor sy mede oud-soldate en vriende moet optree. “Broederskap is belangrik en ons moet soos Gideon in die Bybel hoop en geloof hê,” het Claassen afgesluit.
Vir meer besonderhede oor die PVO Suikerbosrand Canopy kan Herman Palm (voorsitter) by 082 467 9877 geskakel word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button