Kersfeesboodskap van Nigel SAVF
Lees Chris Engelbrecht (voorsitter van Nigel SAVF) se hartroerende Kersfeesboodskap aan die Nigel gemeenskap.
Kersfees is ‘n tyd van kontraste en ongelykhede, uitbundige vreugde wanneer families saamkom, maar ook hartverskeurende smart wanneer een of meer famililede deur ‘n motorongeluk uit die familiekring weggeruk word; families wat saamkom om saam Kersfees te vier, maar ook mense wat op Kersdag heeltemal alleen is; Kerswense wat deur bemindes en bekendes op sosiale media aan bekendes en selfs onbekendes gestuur word, terwyl duisende onbekendes (en onbemindes) nie eens één “Geseënde Kersfees!” ontvang nie.
SAVF Nigel poog om sommige van die ongelykhede reg te stel deur vir die minder-bevoorregtes, die onbelangrikes, die onbemindes, eensames en hongeriges hierdie Kersfees iets te gee wat hul aan die liefde van ‘n genadige, vergewende en barmhartige God herinner; nie net tydens Kersgety nie, maar elke maand van die nuwe jaar.
Baie dankie aan elke vrywilllige donateur, vrywillige werker, en barmhartige Samaritaan met ‘n oop hart, hand, en oog vir hulle aan die onderpunt van die welvaartketting wat nie deel in die voorspoed van selfs die middel inkomstegroep nie. Aan elkeen van bogenoemdes wil ons sê: Geseënde Kersfees 2019 en voorspoedige 2020.
Chris Engelbrecht – voorsitter van Nigel SAVF.




