Marievale inwoners eis miljoene by staat
Die Minister van Verdediging en Militêre Veterane, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, in haar amptelike hoedanigheid as hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) staar moontlik 'n eis van nagenoeg R120 miljoen in die gesig.

Dit volg na die gebeure in November 2017 toe weermagoffisiere met ‘n groot lawaai toegeslaan en honderde gesinne uit hul huise by die ou militêre basis in Marievale uitgesit het.
Onder dié inwoners was veteraan soldaat Hennie Koekemoer (64), sy vrou Wanda wat die militêre basis vir 40 jaar hul tuiste genoem het, asook hul seun Willie en sy gesin. Willie het ten tye daarvan as kampvegter vir die gesinne opgetree en het die saak by die SA Menseregtekommissie aangegee, waarna die hulp van ‘n prokureur, Louise du Plessis ingespan is. Sy het namens die gesinne ‘n reeks hofbevele teen die minister en die departement in die Hooggeregshof van Suid-Afrika bekom.
Die kern van die bevele is dat die weermag alle (wettige) voormalige inwoners weer op die basis en in hul huise moet toelaat, maar sou hierdie huise nie meer beskikbaar wees nie, moet alternatiewe akkommodasie aan die inwoners beskikbaar gestel word.
Die wettige teenstand tussen die minister en die gesinne is egter nog nie opgelos nie en die saak duur voort. Luidens beriggewing deur GroundUp dring die minister daarop aan dat die departement die hofbevele nagekom het en dat alternatiewe akkommodasie aan die betrokke gesinne voorsien is. Du Plessis het egter voorgegaan met ‘n bevel van minagting, aangesien die huisvesting wat deur die department voorsien is, nie geskik is nie.
Nagenoeg 98 gesinne het nou ook hul prokureur opdrag gegee om skadevergoeding van die departement te eis as vergoeding vir die swaarkry wat hulle tussentyd verduur het. Benewens hul fisieke behuisingsaangeleenthede, beweer hulle dat hulle emosionele skade aangerig het toe soldate met geweerwapens hulle uit hul huise gedwing het tydens ‘n aanval.
Daar is briewe aan die weermag gestuur waarin die families tussen R100 000 en meer as R1,5 miljoen eis. Die volgende stap is om dagvaardings uit te reik, maar omdat die eise teen ‘n staatsdepartement is, moes die eisers eers ‘n prokureursbrief aan die departement in hierdie verband uitreik.
In die grootste geval eis Johannes Sifunda R1 miljoen aan grondwetlike skadevergoeding en R250 000 vir pyn en lyding, asook mediese onkoste en verlies aan verdienste. In sy eisbrief het Sifunda glo gesê dat hy op 30 November 2017 hardhandig deur ‘n peleton van ongeveer 15 soldate met pantservoertuie van die militêre basis uitgesit is.
Die Koekemoer gesin eis ook meer as R1 miljoen skadevergoeding. Willie het in 2018 selfdood gepleeg en sy familie skryf dit toe aan die trauma weens die Marievale uitsettings.
“Die saak kom weer in Februarie in die Hooggeregshos voor. Dit gaan ‘n geskiedkundige dag wees indien ons prokureur slaag, want dan moet die weermag miljoene rande in skadevergoeding aan die betrokke gesinne opdok,” het Wanda Koekemoer gesê.




