Heidelberg sakevrou maak sypaadjies mooi
Waterwys vetplante is Belinda van der Merwe se passie.

Dit is vir haar ‘n passie om Heidelberg se sypaadjies te verfraai en sy skroom nie om self haar hande diep in die grond te druk nie. Melinda van der Merwe van Diamante en Goud het ‘n liefde vir die Here en haar medemens en die verfraaiing is vir haar ‘n beginselsaak.
Sy het ‘n paar jaar gelede met die projek begin toe sy gesien het dat die AG Visserhuis se tuin en sypaadjies verwaarloos word. Melinda het waterwys vetplante daar geplant met mooi klippe tussen in om een van Heidelberg se erfenisbakens te verfraai. Spoedig het ander sypaadjies (veral dié om Laer Volkskool) gevolg, asook die ingang na Heidelberg op die hoek van Louwstraat en die R23 (wat by die kloof en Overkruin verbyloop).
Vandag is sy besig om nege sypaadjies te verfraai en te onderhou. Dit is vir haar belangrik om die harde werk nie net aan werkers oor te laat nie. “Hoe kan jy van jou werkers verwag om hard te werk as jy nie self bereid is om sy-aan-sy saam met hulle te buig nie? Ja dit is harde werk, maar dit is ook terapeuties en ek sal dit vir enigiemand met stres of depressie aanbeveel,” het Melinda gesê.

Sommige inwoners verkwalik haar omdat sy glo die munisipaliteit se werk vir hulle doen en meen dat Lesedi Plaaslike Munisipaliteit (LPM) dit nou nie meer nodig sal vind om sypaadjies te versorg nie. Dit bring Melinda egter nie van stryk nie en sy beskou dit eerder as ‘n inspirasie vir LPM om haar voorbeeld te volg.
HERAUT het juis op 20 November berig oor die middelman in Louw- en Jacobsstraat wat deur LPM verfraai is.
Daar is baie inwoners en ondernemings wat Melinda in haar poging steun. “Daar is gereeld mense wat vetplante aandra en Suzan Basson van Crime Stop Sekuriteitsdienste het op 9 Januarie een van haar werkers afgestaan om my te kom help. Dit is sulke gebare wat oneindig baie beteken en ek hoop dat ek ook ander individue asook besighede sal inspireer om hul sypaadjies mooi te maak.
“Die Bybel sê jy moet verantwoordelikheid vir jou grondgebied neem. Ons moet brugbouers wees en ook mense uit voorheen benadeelde gebiede inspireer. Gesels met jou werkers en vra vir hulle of jy vir hulle plantjies kan gee om by hul huise te plant. Op dié wyse reik jy uit na mense uit verskillende omstandighede en so maak jy ‘n verskil in jou samelewing,” het Melinda afgesluit.
Enigiemand wat ‘n bydrae wil lewer, kan vetplante by Diamante en Goud in Begemanstraat afgee.




