God se genade is vir boemelaars ook
Heidelberg hoor Rossi Rossouw en Jimmy Abbott se geestelike boodskap.

Rossi Rossouw was aan drank en dwelms verslaaf. Hy was in die tronk asook ‘n inrigting en het die sig in sy oog tydens ‘n ongeluk verloor nadat hy onder die invloed van Ecstacy bestuur het.
Rossouw het saam met Jimmy Abbott (oud bokser) op 1 Februarie by Nothing is Impossible Ministries in Rensburg getuig. Rossouw is ‘n oud-polisieman, maar het daarna vir jare op straat as ‘n hawelose geleef. Hy is deur ‘n vrou in 2017 genader wat hom werk aangebied het. Hy het kort daarna ‘n visioen beleef wat hom tot inkeer gebring het.
“Ek was verlore en het nie meer omgegee wat met my gebeur nie, maar God se genade het my genees. Hy het bonatuurlik in my lewe ingegryp en my tot inkeer gebring,” het Rossouw vertel.

Vandag is hy ‘n evangelis wat berading en geestelike leiding aan verslaafdes, geskeides, sataniste en ateïste asook kinders wat sonder ouers gelaat is, bied.
Rossouw het in Januarie met sy eie program op Kruiskyk begin en is besig om ‘n boek ‘God se genade is vir boemelaars ook’ te skryf.
Hy besoek gemeentes en doen evangelisasiewerk saam met sy goeie vriend Abbott. Dié oud-bokser is ‘n bekende gesig in Heidelberg waar hy die afgelope 10 jaar saam met sy vrou Annette woon.
Indien jy nog nie vir Abbott genooi het om by jou gemeente of byeenkoms op te tree nie, kan jy dit gerus doen. Dié reus laat jou skaterlag met sy vertellings terwyl hy van die Here se genade getuig.

Abbott het oor 10 punte gepraat wat mense van deurbrake weerhou. Hosea 4:6 sê “My volk gaan te gronde weens ‘n gebrek aan kennis.” Abbott sê die duiwel hou ons plat op die grond. “Dit is waar hy jou wil hou. Maar Jesus gee ons die mag om op hom te trap. Satan kla ons aan, maar moenie na hom luister nie. Hy ken gister, maar hy ken nie môre nie. God gee my ‘n nuwe toekoms,” het Abbott afgesluit.
Rossouw en Abbott glo aan die genesende krag van Jesus en sê elke Christen moet daarna streef om mense in die naam van Jesus Christus te genees.
Jimmy kan by 082 776 7457 geskakel word.




