Nigel VLU kraai koning by Konferensie
Daar het groot opgewondenheid onder lede van Nigel VLU geheers toe hulle op 12 Maart vir hul 748ste vergadering bymekaar gekom het.

Dié tak is op 7 Maart tydens die 25ste VLU Goudrifstreek Konferensie as algehele wenner aangewys nadat hulle Birchleigh-tak met een punt geklop het.
Nigel VLU het ‘n totaal van 885 punte teenoor Birchleigh se 884 behaal. Carpe Diem-tak was derde met 850 punte. Altesaam sewe takke en 173 lede vorm deel van die streek. Nigel VLU het ook ‘n trofee vir ‘mees entoesiastiese tak’ ontvang, terwyl Lettie Roos as vonkelvrou van die jaar aangewys is.

Ronel Lombaard wat ‘n eersteplek (handsak) en twee tweedeplekke vir hekelwerk (interlocking en pantoffels) behaal het, is ook tydens dié geleentheid as vise-streeksvoorsitter gekies.
In die naaldwerkmasjien afdeling en blommerangskikking vir beginners afdeling het Annemarie Axer twee derdeplekke ingepalm. Hettie Botha het die meeste inskrywings gehad en is as VLU raakvatter aangewys. Sy het eersteplek vir haar handvlytboksie en eersteplek vir die jaarprogram behaal.
Tonien Botha het tweedeplek in die blommerangskikking (gevorderde afdeling) behaal en Anneline Nel derdeplek vir breiwerk. Rina Murphy se foto’s het beoordelaars beïndruk en sy het derdeplek losgeslaan, terwyl Suzaan Drotsky se prosawerk haar ook ‘n derdeplek besorg het.
In die blommerangskikking-afdeling het Nigel VLU ook koning gekraai en met ‘n totale punt van 234 as algehele wenner van die VLU Kongres (wat vanaf 31 Julie tot 1 Augustus 2019 plaasgevind het) aangewys.
Die doel van die VLU is wydlopend, maar een van die belangrikste aspekte is om ‘n vrou se kennis te verbreed en haar toe te laat om haar eie talente te ontdek.
Vroue in die plaaslike gemeenskap word aangemoedig om aan te sluit. Lede vergader elke tweede Donderdag van die maand by om 10:00 by die Nigel NG Kerk Oos.
Vir navrae, skakel Anna-Marie Axer by 082 886 2002.




