Oud-onderwyser in goeie gees na Covid-19 bevestiging
Daar is nie ‘n bang haar op hierdie Heidelberger se kop nie. Haar gemoed is rustig en sy het vertroue dat die Covid-19 virus nie haar lewe gaan eis nie.

Dit is afgetrede onderwyser Irene Bronkhorst se uitgangspunt nadat toetsuitslae op 14 April (gister) bevestig het dat sy die gevreesde virus onder lede het.
“Ek is nie bang nie. Ek is ‘n kind van die Here. Hy besluit wanneer ons strepie getrek is,” het Bronkhorst vandag getuig.
Soos talle ander besorgde landsburgers, het sy reeds weke voor die grendelstaan aangekondig is voorsorgmaatreels begin tref om te sorg dat haar tasbare imuunstelsel gereed is vir wat ookal mag voorkom.
Die Bronkhorst-gesin het ook handskoene, maskers en verskeie ontsmettingsmiddels aangekoop en hulle het ‘n punt daarvan gemaak om slegs die winkels te besoek wanneer dit werklik nodig was. Op 4 April het Irene haar maandelikse inkopies by Pick ‘n Pay gedoen. Sy en haar dogter Annerene was omstreeks 05:30 by die Victorian Sentrum en hulle was van die eerste klante wat toegang tot die winkel ontvang het.
Die Overkruin-inwoner was daarna by nog twee ander plekke in die dorp. Sy het op 8 April haar nuwe bankkaart by Standard Bank in Heidelberg Mall gaan haal en is daarna Checkers toe om nog ‘n paar noodsaaklikhede te koop.
“Dit was die enigste tye wat ek tydens die grendelstaat wat buite die huis was.”
Die enigste voorsorgmaatreël wat Irene nie getref het nie, was die ontsmetting van pakkies waarin haar inkopies was.
Op 11 April (Saterdag) het sy met ‘n kouekoors wakker geword. Haar lyf en gewrigte was seer en haar temperatuur het bly toeneem. Sy het onmiddelik na Dr Jacobe Meyer se spreekkamer gegaan waarna sy vir die coronavirus getoets is.
Irene het gister die uitslag ontvang, maar het getuig dat sy sedert haar besoek aan Dr Meyer se kantore reeds beter voel.
“Dr Meyer het anti-biotika aan my voorgeskryf wat ek saam met al my vitamienaanvullings gebruik. Ek drink elke dag 1000mg vitamien C en teen Maandag was ek gesond genoeg om huis skoon te maak.”
Irene moes egter kort daarna die mop en politoer vir eers neersit nadat haar man Jaap en Annerene haar in haar kamer ‘ingeboender’ het om te rus.
“Dit is snaaks, want ek voel nou beter en nou moet ek in die bed bly. Die departement van gesondheid was ook hier en ons neem verdere voorsorgmaatreëls.”
Jaap en Annerene het vandag (15 April) vir coronavirustoetse gegaan. Hul uitslae sal binnekort bekend gemaak word.




