LCC Heidelberg méér as net ‘n skuiling vir haweloses
Daar is niks soos 'n pandemie om mense óf te laat opgee, óf te laat saamstaan soos nog nooit tevore nie. Genadiglik is dit die laasgenoemde wat Lesedi Community Centre (LCC) sedert 27 Maart ervaar.

LCC is daarop beroep om diegene in die gemeenskap sonder ‘n inkomste of tuiste te ondersteun. Hulle doen dit egter nie net sedert die grendelstaat nie. Dit is ‘n diens wat al vir jare gelewer word.
Siftingstoetse
LCC bied ‘n tuiste aan 68 inwoners wat huidiglik haweloos is. Die inwoners sit nou almal hand by met voorbereiding van daaglikse etes en kospakkies aan honderde inwoners oor alle rasgrense wat na LCC vir voedselhulp stroom. LCC het in Februarie 2020 die bestuur van Indawo Yosizo (Centre of Help) oorgeneem. Dit is ‘n organisasie wat reeds sedert 2007 dienste in Heidelberg lewer. Hulle bemoei hulle met HIV-, TB- en glukose-toetsing, asook HIV-berading en nasorgdiens. ‘n Span van Indawo Yosizo is ook onlangs deur HIVSA opgelei om siftingstoetse vir die Covid-19 virus te doen. HIVSA is ‘n nie-winsgewende maatskappy wat in 2002 gestig is en is ‘n HWSETA geakkrediteerde opleiding verskaffer sowel as strategiese vennoot van die Gauteng Provinsiale Departement van Gesondheid en Sosiale Ontwikkeling. Die opgeleide groep is sedert 20 April besig om siftingstoetse uit te voer. Siftingstoetse het in Ratanda afgeskop en tussen 20 en 24 April is 330 huise besoek en 1049 inwoners vir Covid-19 getoets. Geen positiewe toetse vir die virus is opgelewer nie.
Covid-19 noodskuiling
LCC behartig sedert 27 Maart die noodskuiling wat daargestel is om akkommodasie en voedsel aan haweloses tydens inperking te voorsien. Die skuiling, wat tans ongeveer 25 mense huisves, word deur ‘n groot groep rolspelers bestuur. Die teenwoordiges wissel gedurig met persone wat bykom en ander wat eenvoudig nie in die skuiling wil bly nie. Die skuiling word vanuit Kudung Middle School in Ratanda bedryf en van die rolspelers is Lesedi Plaaslike Munisipaliteit (maatskaplike werkers; elektrisiteit, watertenks en sekuriteit); Heidelberg SAPD (wat ‘n onskatbare groot rol speel); Departement van Onderwys (perseel en sekuriteit); SANDF (beskikbaarstelling van komberse en beddens); Lesedi Brandweerdienste (komberse) en die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling (befondsing, maatskaplike dienste en waardigheidsakke).
Verder is die Departement van Gesondheid aktief betrokke en is ‘n mobiele kliniek op die perseel aangebring om na die gesondheid van die inwoners om te sien. Covid-19 toetse word uitgevoer, asook HIV-toetse en uitreiking van chroniese medikasie wat sommige haweloses benodig.
Sanca Heidelberg is ook elke dag betrokke om die haweloses wat van dwelms afhanklik is met onttrekking simptome by te staan. LCC voorsien etes, lewer addisionele versorging dienste en behartige die algehele bestuur van die skuiling, wat op enige dag ‘n uitdaging is. Die haweloses word deur lede van Heidelberg-, Ratanda- asook Vaal Marina SAPD na die skuiling vervoer.
Voedingskema
“Sonder die ontsettende ondersteuning van plaaslike sakelui en die publiek, sou ons nie hierdie oorlog teen honger gewen het nie,” sê Jaco Kritzinger (LCC algemene bestuurder). LCC bly nie voor met die verskaffing van kospakkies en daaglikse etes nie. “Sedert die grendelstaat het ons reeds 4 062 gekookte etes (1.3 ton) en 1 732 kospakkies wat 8 660 begunstigdes bereik het (23.7 ton) uitgedeel, sê Kritzinger. Die getalle wat kom aanklop vir kos styg uurliks. Aanvraag na kospakkies het in 10 dae van 403 tot 880 gegroei. “Solank as wat ons kan voorsien, sal ons niemand wegwys nie,” benadruk Kritzinger.
Die volgende maak deel uit van skenkings aan behoeftiges sedert 27 Maart: 9 000kg mieliemeel; 50kg bone; 3 464kg uie; 600kg pasta; 1 148kg mielies; 866kg wasgoedpoeier; 500kg suiker; 327kg meel; 3464kg wortels; 2 050kg soya; 211 blikkieskos en 3 464kg aartappels!
Hoe sê ons Dankie
“Ons staan in verwondering oor die goedhartigheid van Heidelberg se mense en besighede. In hierdie krisistyd is Heidelberg beslis die beste gemeenskap om in te wees!,” het Kritzinger vertel. “Ons kan nie genoeg dankie sê vir alle donateurs nie,” het hy benadruk.
Só kan jy help
Enige hulp in die vorm van voedselskenking of finansiële donasies stel ons in staat om voort te gaan om die juk van honger tydens inperking en ook daarna te verlig. Al sal die inperkings oor ‘n paar weke moontlik verlig word, sal die hongersnood vir maande nog hard op inwoners druk. Enige donasies van watter aard of bedrag, gun ons die geleentheid om aan te hou met die voorsiening van etes en kospakkies.
Finansiële bydraes kan in die volgende rekening deponeer word: Lesedi Community Centre, FNB tjekrekening 6280 943 2032 (takkode is 255355).
Om direk met die bestuur te praat, skakel Jaco Kritzinger by 072 575 0081 of Lezanne Scholly by 084 854 1897.




