Local newsNews

Ronita vertel van vrese en repatriasievlug na SA

"My grootste vrees was en is dat ek die virus opdoen." Dit is die woorde van Ronita van Niekerk van Heidelberg, kort nadat sy op 3 Mei na 'n repatriasievlug vanaf Amerika, by OR Tambo lughawe geland het.

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) het bevestig dat meer as 3 000 Suid-Afrikaners wat ten tye van die landwye afsondering in die buiteland gestrand was, intussen na Suid-Afrika gerepatrieer is.

Onder die groep van ongeveer 275 wat op 3 Mei geland het, is dié oud-Volkie wat sedert die inperking in die Amerikaanse epiesentrum (New Jersey) gestrand was.

Ronita wat in 2019 aan Hoër Volkskool matrikuleer het, wou haar vlerke sprei en het Suid-Afrika begin Februarie verlaat om vir die volgende jaar au pair-werk in Amerika te doen. Die Covid-19 pandemie en gepaardgaande wêreldwye inperkings het haar drome egter oombliklik kortgeknip.

“My plan was om deur die jaar, wanneer ek nie werk nie, te toer. Ek wou lande en plekke sien, maar toe breek die pandemie uit en alles verander oornag. Ek wou al die eerste week in April na Suid-Afrika terugkeer, maar dit was nie moontlik nie. Ek en my ma het ‘n Facebook-groep ontdek wat gestrande Suid-Afrikaners help om deur middel van Dirco terug te keer maar ek moes vier weke angstig wag vir bevestiging,” het sy haar onlangse ervaring met HERAUT gedeel.

Kort nadat die groep uit die buiteland by OR Tambo lughawe geland het, is hulle in kleiner groepe opgedeel en na verskillende kwarantyn fasiliteite vervoer.

Ronita is tans vir 14 dae by die Raddison Blue Gautrain Hotel in Sandton en het teenoor HERAUT bevestig dat Covid-19 toetse nog uitgevoer moet word.

“Die hotel waar ek bly is pragtig en daar word goed na ons omgesien. Ons ontvang gereeld etes en dit is skoon en netjies, maar volgens nuusberigte is lede van die ander groepe nie so gelukkig nie en het by sentrums opgeëindig waar die omstandighede van haglik tot onuithoubaar wissel,” het sy gesê.

Sy is daagliks met haar ouers in kontak en sê sy doen alles in haar vermoë om haar eie veiligheid teen die gevreesde virus te verseker.

“My toekomsplanne het ‘n nuwe koers ingeslaan en sedert die uitbreking van koronavirus het ek geleer om nie alles vooruit te beplan nie. Ek vat dit een dag op ‘n slag, maar ek beplan wel om volgende jaar te studeer. Ek het nou genoeg tyd om navorsing te doen en dan te besluit watter rigting ek wil neem,” het Ronita afgesluit.

Die uitslag van haar Covid-19 toets is nog nie bekend nie, maar Ronita het gesê sy twyfel of sy die virus opgedoen het, aangesien sy die nodige veiligheidsmaatreëls toegepas en inperking-regulasies streng nagekom het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Magda Maritz

News editor and journalist for HERAUT newspaper. 'Read what you like and like what you read' is my motto.

Related Articles

Back to top button