Local newsNews

Vlak 3 – Onduidelikhede gaan probleme oplewer, sê VF Plus

Luidens 'n verklaring deur die VF Plus, is daar steeds talle vrae en onduidelikhede oor die fyner besonderhede van Vlak 3-regulasies en daar is steeds te veel gevalle waar beperkings bloot nie rasioneel is nie, soos die verbod op ondernemings soos haarsalonne en die beperking op oefentye.

“Die regulasies vir Vlak Drie soos vandag aangekondig, bevat talle klousules wat eers in werking gaan tree nadat die betrokke kabinetsminister direktiewe daaroor in die Staatskoerant gepubliseer het. Dit skep onsekerheid,” het Dr Pieter Groenewald (VF Plus-leier) gesê.

Betreffende die uitsluitingstabel oor bedrywighede wat onder dié vlak toegelaat sal word, is ook groot onsekerhede. Wat sekere onderwyssektore en openbare vervoer aanbetref, word gewag op aanduidings deur bepaalde direktiewe van die ministers.

“Dit moet in gedagte gehou word dat Vlak Drie van 1 Junie geld wat die vraag laat ontstaan of hierdie onduidelikheid betyds uit die weg geruim gaan word voordat na dié vlak oorbeweeg word. Dit sal waarskynlik nie gebeur nie, wat beteken dat talle ondernemings steeds onsekerheid het oor hul situasie.”

Die aankondiging dat kerke wel hul deure kan oopmaak om dienste te hou is volgens die party aanvaarbaar, maar die beperking op aantal kerkgangers is nie prakties uitvoerbaar nie.

Die nuwe tydbeperking vir oefening met die voorwaardes daaraan verbonde, is ook volgens Dr Groenewald, irrasioneel, asook die verbod op ondernemings soos haarsalonne, en skoonheidskundiges.

“Dit is onaanvaarbaar. Die beperkte tye vir drankverkope sal bloot daartoe lei dat meer mense oor korter verkooptye sal moet saamdrom om hul aankope te doen,” het hy gesê.

Volgens Dr Groenewald het die tyd aangebreek dat die regering groter vertroue in die publiek plaas om in sommige aspekte saam te werk. Tot nou toe was die groter publiek se samewerking onder moeilike omstandighede goed.

“Die onbenullige beperkings toon egter ʼn ongesonde behoefte van die regering om steeds oor alles beheer uit te oefen en dit te oorreguleer,” het hy afgesluit.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Magda Maritz

News editor and journalist for HERAUT newspaper. 'Read what you like and like what you read' is my motto.

Related Articles

Back to top button