VF Plus eis dat regering GPF patrollies toelaat
Die VF Plus het tydens 'n virtuele komiteevergadering die Gautengse LUR vir gemeenskapsveiligheid Faith Mazibuko, asook die provinsiale polisiekommissaris Lt Gen Elias Mawela gevra om gemeenskap polisiëring forums (GPF) toe te laat om tydens die staat van inperking patrolliediens te doen.

Dit volgens Kobus Hoffman (VF Plus-LPW Gauteng) wat sê GPF-lede speel ‘n belangrike rol in die bekamping van misdaad en hul hulp is veral nodig ná die beduidende styging van veediefstalle, inbrake en diefstal by ondernemings in Gauteng.
“Die polisie is tans onder druk om toe te sien dat inperkingregulasies deur gemeenskappe nagekom word,” het Hoffman gesê.
Die VF Plus het gemaan dat indien die regering weier om buurtwagte toe te laat om hul werk te doen, kan daar ‘n groter styging in misdaad, veral huisbrake verwag word.
Die VF Plus sê hy sal volhou om druk op die Gautengse regering te plaas om patrolliedienste toe te laat om inwoners van die provinsie te help beskerm.




