Local newsNews

Nigel Wildspark kan dalk sluit

Die eerste ding wat besoekers raaksien wanneer hulle die dorp vanuit Balfour se rigting betree, is die wildspark waar talle zebra's, volstruise en rooibokke staan en wei. 

Die munisipale park beskik ook oor ‘n eendedam en dien in die somer as gewilde piekniek-area. Tog hang daar ‘n swaard oor die voortbestaan van dié bekende dorpsbaken en luidens Wollaston Labuschagne (DA raadslid) mag die park moontlik sluit en die diere op ‘n veiling verkoop word.

“Algemene opknapping en instandhouding van die park, asook dieresorg (wat ‘n plaaslike veearts se fooie insluit) jaag die munisipaliteit elke maand duisende rande uit die sak. Dit is ‘n reuse-uitgawe, maar ek verseker inwoners dat voor ‘n finale besluit gemaak word, belangrike aspekte en plaaslike insette eers in ag geneem sal word,” het hy teenoor HERAUT genoem.

Hy het bygevoeg dat indien dit daarop neerkom, die sluit van Nigel Wildspark nie oornag sal plaasvind nie. Die Ekurhuleni Metroraad het in sy 2020/21 begroting vir opgradering van die heining voorsiening gemaak en die projek het reeds afgeskop. Verskeie beskadigde panele is sedertdien herstel of vervang.

“Dit is nodig om die heining gereeld na te gaan en in stand te hou, want dit is nie net daar om te keer dat die wild uitkom nie, maar ook om wilddiewe buite te hou,” het hy gesê.

Of dit uit hongernood is weet hy nie, maar volgens Labuschagne slaan wilddiewe nou gereeld toe. Dit kan egter ook toegeskryf word aan die Covid-19 inperkingsregulasies wat GPF-lede verhoed om die dorp- en omliggende gebiede te patrolleer.

Die jongste voorval het vermoedelik op 25 Mei plaasgevind toe ‘n zebra gejag en ‘n ander beseer is.

Labuschagne het ondersoek ingestel toe ‘n inwoner aangrensend tot die wildspark hom geskakel en van die slagting meegedeel het.

Terwyl daar ‘n wolk oor die wildspark se toekoms hang, word inwoners gevra om verdagte persone of optrede aan Nigel polisie by 011 812 6503 of Nigel Metropolisie by 011 999 9128/9129 aan te meld.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Magda Maritz

News editor and journalist for HERAUT newspaper. 'Read what you like and like what you read' is my motto.

Related Articles

Back to top button