Local newsNews

Ja vir kerke

Geestelike leiers en aanbidders regoor die land het president Cyril Ramaphosa se aankondiging dat kerke, moskees en ander plekke van aanbidding onder vlak 3-afsondering met geloofsaktiwiteite kan voortgaan, verwelkom.

Godsdienstige leiers word sedert die aankondiging van die nasionale grendelgreep as noodsaaklike werkers vir doeleindes van berading en die lei van begrafnisse beskou, maar kerkdienste was ontoelaatbaar.

Plekke van aanbidding kan nou ingevolge die verslapping van die inperkingsregulasie weer vanaf 1 Junie dienste aanbied, mits nie meer as 50 mense dit op een slag bywoon nie. Die president het egter gemaan dat hoe kleiner die ruimte waar die diens plaasvind, hoe minder mense toegelaat word en dat sosiale afstand streng gehandhaaf moet word.

Almal teenwoordig tydens dié dienste moet gesigmaskers dra en daar moet stappe geneem word om te verseker dat plekke van aanbidding behoorlik voor en ná dienste gereinig word.

Suid-Afrikaners word gemaan om hul diskresie te gebruik en godsdienstige aktiwiteite wat ‘n risiko vir oordra van die koronavirus inhou, eerder te vermy.

Sommige kerkgroepe soos die Sionistiese Kerk wil nou volgens berigte vergoed word vir inkomste wat verlore gegaan het weens die algehele landwye afsondering.

“Die regering se besluit om die verkoop van alkohol en die heropening van skole toe te laat, maar kerke gesluit te hou, is ‘n belediging vir kerke en godsdiens,” het Bheki Ngcobo (biskop van die sionistiese kerk) gesê.

Tog het hy sy dank uitgespreek dat plekke van aanbidding onder vlak 3 met geloofsaktiwiteite kan voortgaan, maar wel gevra dat kerke meer mense tydens dienste moet kan akkommodeer.

“In ‘n tyd van onsekerheid, hartseer en vrees, veral met soveel mense wat hul werk verloor het en soveel siekte rondom ons, is ek dankbaar dat kerke kan heropen sodat mense wat smag na bemoediging en troos, nou die opsie het om geestelik gevoed te word. Hoewel daar ‘n risiko verbonde is aan kerkdienste en geestelike samekomste, is ek van mening dat die risiko om in die drankwinkel se ry te staan, groter is,” het Ds David Niebuhr (leraar by die NG Kerk Dunnottar en president van Emergency Services Chaplaincy of Southern Africa gesê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Magda Maritz

News editor and journalist for HERAUT newspaper. 'Read what you like and like what you read' is my motto.

Related Articles

Back to top button