Gouwse se hanekam pronk weer pragtig, maar dalk nie weer
Dit het niks met groenvingers te doen nie, want Jurie en Caroline Gouws sê dat hul hanekamme wat jaar na jaar nuus maak, weer geen spesiale behandeling ontvang het nie.

“Ons is egter bietjie hartseer, want ons het ‘n klomp hanekamme in potte geplant, maar die onlangse ryp het hulle almal lelik geknou, het Jurie vertel terwyl hy die somber prentjie uitgewys het.
Verlede jaar het Caroline by ‘n reusehanekam vir ‘n foto gestaan, met ‘n kleiner plant wat homself ook langs die palmboom tuisgemaak het. Vanjaar is dit juis dié kleinboet wat op kamera vasgevang is.
“Dit is dieselfde storie,” vertel die Gouwse. Die plant het geen versorging benodig nie en wat vreemd is, is die feit dat dit duidelik is dat die hanekamme nie lief vir water is nie. Hulle groei op die mees ondenkbare plekke, soos teen die stam van ‘n ou palmboom wat al jare dood is,” het hulle gesê.
Die vinke het ook vanjaar tot groot ergenis van Jurie behoorlik aan die hanekamme se saad kom weglê.
‘n Standaard hanekam groei gewoonlik sowat 30cm, maar vanjaar se plant (wat aansienlik kleiner as verlede jaar se allemintige 130cm meneer is) het lankal 30cm verbygesteek.
HERAUT het dit vanpas gevind om vanjaar albei die Gouwse by die pragtige hanekam af te neem. Dit is moontlik die laaste keer dat hulle by die jaarlikse gesig afgeneem word, want daar is sprake dat die egpaar hulle volgende jaar permanent by hul kinders in Nieu Seeland gaan aansluit.
HERAUT kan net hoop dat die nuwe eienaars van dié netjiese woning in Du Toitstraat ook soveel geluk aan die hanekamme sal bring.




