Local newsNews

Dok Heunis hang sy stetoskoop na 44 jaar op

Dr JH Heunis het op 30 Junie weens gesondheidsredes die tuig ná 44 jaar as huisarts neergelê.

As algemene mediese praktisyn was hy een van die dorp se bekendste geneeshere en het vele aspekte van die mediese beroep beleef naamlik geboortes en die oordra van goeie nuus, maar was ook dikwels by ‘n pasiënt se sterfbed teenwoordig.

Dr Heunis is in Springs gebore en getoë. Hy het in 1962 aan die destydse Hoër Seunsskool Hugenote in Springs matrikuleer, waarna hy sy MBcHB graad in 1968 by die Universiteit van Pretoria behaal het. Hy het praktiese hospitaaljaar in 1969 by die destydse HF Verwoerdhospitaal in Pretoria voltooi en in dieselfde jaar met sy skoolliefde Santa Smith, getrou. Drie kinders is uit hul huwelik gebore.

Vanaf 1970 tot 1971 het Dr Heunis as mediese beampte by die destydse Boksburg-Benoni Hospitaal gewerk, waarna hy vir drie maande by ‘n privaat mediese praktisyn in Ventersdorp gewerk het.

Gedurende 1972 het hy by ‘n praktyk in Brakpan aangesluit waar hy vir twee jaar voltyds gepraktiseer het, voordat hy in 1975 na Pretoria vir verdere studies in oogheelkunde verhuis het. Nigel het op 28 Mei 1976 sy tuisdorp geword toe hy en sy gesin die stad se liggies agtergelaat het. Dit is hier waar hy vir 44 jaar in die gemeenskap se lief en leed gedeel het en gedurende die tyd was hy ook in vennootskap met Dr WH van Staden (grondlegger van die praktyk), Dr PJ de Jager, CJ Landauer en tot onlangs Dr CE Barnes.

Dr Heunis het sy personeel vir hul getroue en lojale diens wat tot die praktyk se sukses bygedra het, bedank. Hulle is suster PJ du Toit, suster Corrie Stassen, Johannie Avelar, Riette Deysel asook die huidige personeel, Melanie Lingard en Mescal Prinsloo. Sy vrou was verantwoordelik vir die praktyk se boekhouding sedert 1992.

Verder het Dr Heunis sy pasiënte wat hom deurentyd met liefde en respek behandel het, bedank. Die praktyk word deur Dr Barnes voortgesit en Dr Heunis het haar sukses en voorspoed toegewens en haar vir die rotsvas vennootskap die afgelope agt jaar bedank.

Santa het ten slotte waardering teenoor die gemeenskap uitgespreek vir hul opregte belangstelling en gebede tydens Dr Heunis se siekte die afgelope tyd.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Magda Maritz

News editor and journalist for HERAUT newspaper. 'Read what you like and like what you read' is my motto.

Related Articles

Back to top button