Kameras kliek binne perke
Covid-19 inperkinge het nie in Heigel Fotoklub se lede se pad gestaan om vol te hou met hul aktiwiteite nie.
Inteendeel, tydens die inperking het hulle landswyd fotograwe geïnspireer om die kameras op te neem en kreatief te mik.
Maandelikse samekomste is nou wel taboe, maar lede hou steeds hul maandelikse kompetisies deur middel van sosiale media platforms. In Meimaand was fotograwe weer aktief met die interklub kompetisie en Michelle van Niekerk is as algehele wenner vir die maand aangewys. Alida du Toit het die temafoto vir die maand gewen en Annelie Vermeulen is in die afdeling vir juniors as die wenner vir die maand gekroon.
Heigel Fotoklub het verder ‘n suksesvolle landswye fotokompetisie (of salon soos dit in fotografiekringe bekendstaan) aangebied deur middel van die Fotografie Assosiasie van Suid-Afrika. Nasionale sowel as internasionle fotograwe het in ses afdelings deelgeneem en ‘n pragtige totaal van net minder as 5000 inskrywings is ontvang.
Heigel Fotoklub se lede spog self met nie minder nie as 200 inskrywings en lede het verskeie toekennings ontvang, waaronder ‘n medalje en talle meriete toekennings.
Alle belangstellendes wat wil betrokke raak of aansluit by Heigel Fotoklub kan vir Nico Smith (klubvoorsitter) by 081 469 1454 of Reg Van Deventer (tesourier) by 082 320 6395 vir verdere inligting skakel.






