Groot seder in Heidelberg val
Met die afsterwe van Ivan (Jacobus) Hamman op 10 Julie het Heidelberg een van sy grootste verliese nog gely.

Ivan het sedert 1965 diep spore hier getrap en hy laat ‘n reuse-leemte in die gemeenskap agter. Ivan is op 1 Augustus 1938 in Garies Namakwaland gebore, maar dis hier aan die voet van die Suikerbosrand waar hy vir 55 jaar groot insette gelewer het.
Ivan se loopbaan in Heidelberg het in 1965 hier as assistant-landdros afgeskop. Hy is in 1964 met Anette (Sophia) van der Merwe getroud en hul huwelik was met vier kinders (Rian, Werner, Yvette en Vanessa) geseën. In 1969 het Ivan sy pos as assistent-landdros vaarwel geroep en vir die stadsraad van Heidelberg gestaan. Dit is ook in dié tyd dat hy aandele in die Rendor inryteater bekom het, waar hy saam met Johan Botha en Frans Penning aan stuur van sake gestaan het.
Ivan was ‘n veelsydige man met vele ysters in die vuur en het in sy vrye tyd by Dunell Motors begin werk. Nie lank hierna nie, het Ivan en Deon le Roux ‘n tweedehandse handelaarskap vir gebruikte voertuie met die naam Auto-Ren in 1970 begin. Hulle het die Peugeot en Mazda agentskappe gewerf en in Oktober 1975 voeg die manne ook die Toyota agentskap by, wat tot vandag toe as Auto-Ren stewig geanker op die bopunt van Voortrekkerstraat staan.
Terwyl die handelaarskap van krag tot krag gegaan het, het Ivan ook vir 14 jaar op die stadsraad gedien. Hierdie formidabele man was as burgemeester in 1972, 1974 en 1975 verkies.
Gedurende die tyd het hy ook op die lisensieraad van Heidelberg gedien en was vise-voorsitter van die waardasiehof.
Met ‘n propvol dagboek, het Ivan egter nog tyd beskikbaar gestel om op die bestuursliggaam van Emmasdal Skool vir 10 jaar as voorsitter en vise-voorsitter te dien waar hy ‘n beter toekoms vir honderde kinders moontlik gemaak het.
Ivan was ook vir baie jare ‘n aktiewe lid van Heidelberg Besigheidskamer sedert dit in die vroeë 90s op die been gebring is en was vir twee termyne as president van die kamer verkies.
Hy het ook op Toyota Noord en Oos Transvaal handelaar adviesraad as voorsitter vir 10 jaar gedien en was lid van die nasionale handelaar adviesraad by Toyota.
Sedert 2014 het Ivan se gesondheid egter begin verswak en alhoewel hy talle prosedures moes ondergaan, het Ivan tot sy einde as uitvoerende voorsitter van Auto-Ren gedien, met Barries Badenhorst wat as besturende direkteur en Vanessa du Toit as direkteur die leisels vasgehou het.
Ivan het die afgelope 10 jaar ‘n hartomleiding, heupvervanging en been amputasie ondergaan.
Hy was ook met CIDP (Chronic Inflammatory Demyelinating Polyneuropathy) gediagnoseer wat sy lewenskwaliteit onherroeplik verander het en op 10 Julie het hierdie ongelooflike man die stryd opgesê.
Ivan word oorleef deur sy dogters Yvette en Vanessa, susters Selma en Lydia, sewe kleinkinders en twee agterkleinkinders. Die begrafnisdiens het op 15 Julie vanuit die NG Gemeente (Klipkerk) plaasgevind en alhoewel sy plek altyd leeg gaan wees, sal Ivan vir ewig in die harte van sy geliefdes, familie en vriende voortleef.




