Local newsNews

President se aankondiging oor skole teleurstellend, sê DA

Die Demokratiese Alliansie (DA) sê dat president Cyril Ramaphosa die knie gebuig het voor al die sterk onderwys vakbonde en meer spesifiek SADTU wat op sy beste nooit die belange van leerders op die hart dra nie.

Dit volg ná die president se aankondiging op 23 Julie dat die land se skole vanaf 27 Julie tot 24 Augustus gesluit sal wees. Graad 12-leerders keer egter op 3 Augustus en Graad 7-leerders op 11 Augustus terug.

“In plaas van geleerdheid en ’n toekoms om na uit te sien, leer die ANC die leerlinge meer van skuldlas, honger en onkunde,” het John Steenhuisen (leier van die DA) gesê.

Hy het bygevoeg dat sluiting van skole vir jare wat kom ’n vernietigende effek op leerders gaan hê. Daar kan verwag word dat baie leerders net eenvoudig hul skoolloopbaan opsy gaan skuif en nie terugkom skool toe nie en sodoende terugval op ’n vlak waarvan hulle eenvoudig nie weer kan herstel nie.

“Skool voedingskemas sal ook nie meer in hul doel slaag nie en skole gevandaliseer word. Met onderwys wat afgeskeep word gaan armoede verder toeneem en daarmee saam lewensverlies. Daar moet geen illusie bestaan oor die feit dat armoede doodmaak nie,” het Steenhuisen gesê.

Die president se aankondiging het geen besonderhede bevat om ouers in staat te stel om vir die ontwrigting vir die weke wat voorlê te beplan nie en ouers het steeds die keuse om kinders nie terug skool-toe te stuur nie. Die realiteit is dat ouers moet werk in ’n tyd wat werksgeleenthede min is.

Volgens Steenhuisen is die werklikheid dat kinders beter sosiale afstand en higiëniese standaarde by die skool handhaaf, as wanneer hulle op hul eie buite die skool en sonder ouers, wat werk, se toesig is.

“Na vier weke gaan die virus steeds daar wees. Wat gaan dan gebeur? Gaan ons maar weer verdere verskuiwing van die inperking gedweë aanvaar terwyl die regering steeds verder agter raak om die kapasiteit vir toetsing en behandeling te verhoog?”

Steenhuisen sê dat die ANC se besluit om skole te sluit niks daarmee te doen het om die veiligheid van die kinders en onderwysers te verseker nie, maar alles te doen het om die oorlewing van die ANC en sy onbeholpe status te verseker.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Magda Maritz

News editor and journalist for HERAUT newspaper. 'Read what you like and like what you read' is my motto.

Related Articles

Back to top button