Marie vier 100ste verjaardag tydens inperking
Om jou 100ste geboortejaar in afsondering te vier, is loshande seker dié grootste laagtepunt in enige mens se lewe, maar Marie Coetzee se positiewe gesindheid laat haar deur niks onderkry nie.
Weens die streng Covid-19 inperkingsregulasies was dit nie vir HERAUT moontlik om Marie op 27 Julie by Nigel Tuiste vir Bejaardes te besoek nie. Haar grootste mylpaal kon dus nie met die gebruiklike fanfare gevier word nie, maar personeel het gesorg dat Marie steeds bederf en soos ‘n koningin trakteer word en volgens Pieter Smit (bestuurder) is sy verbasend aktief en gesond.
Marie is in 1920 op die plaas Arcadia in die Bethlehem-distrik gebore en was die tweede jongste van vier kinders. Sy het haar skoolloopbaan in Senekal voltooi waarna sy haar man Jacobus ontmoet het.
“Daardie jare het meisies maar op ‘n jong ouderdom getrou. Ek was ook net 19 jaar oud toe ek in 1940 getroud is. Jacobus was die liefde van my lewe,” het sy tydens ‘n vorige onderhoud met HERAUT verklap.
Die egpaar het na Ermelo verhuis waar Jacobus onderwys by ‘n hoër handelskool gegee het en Marie het as boervrou na die huishouding omgesien. Drie kinders is uit die huwelik gebore en Marie het dit haar lewenstaak gemaak om na haar gesin se behoeftes om te sien. As voorslag bakker het sy die dorp se tuisnywerheid gereeld voorsien en was ook jarelange lid van die Vroue Landbou Unie. Gedurende haar lidmaatskap het sy verskeie pryse vir veral skilderkuns ingepalm.
Toe Marie egter in haar mid-dertigs deur porfirie platgetrek is, was daar menige donker dae en wanneer sy aan dié tydperk in haar lewe terugdink, onthou sy dat sy by tye so siek en verswak was dat sy geglo het die einde is naby.
“Die dokters het op ‘n stadium teenoor my familie verklaar dat hulle niks meer vir my kan doen nie,” het sy gesê en met ‘n glimlag bygevoeg dat dit egter God se hand en Jacobus se liefde en geduld was wat haar uiteindelik weer op die been gekry het. Sy het volkome herstel en daarna ‘n normale en gesonde lewe gelei.
Die egpaar het later na Nigel verhuis en Jacobus is in 2003 oorlede, waarna Marie haar intrek by die tuiste geneem het. Sy deel ook graag haar herinneringe oor die talle lappoppe en groetekaartjies wat sy oor die jare gemaak het en dit is duidelik dat daar geen perke aan Marie se geesdrif is nie.
“Tot sowat twee weke gelede nog het Marie haarself vir ure lank met skilderwerk besig gehou. Sy het die mooiste groetekaartjies gemaak, wat op aanvraag van inwoners verkoop is. Sy het die laaste paar dae olik gevoel, maar is steeds redelik gesond en in goeie gees,” het Smit afgesluit.




