Miljoene Suid-Afrikaners ly honger weens inperking
Navorsing het bevind dat Suid-Afrikaners toenemend bekommerd is oor hul geldsake en die uitwerking wat die Covid-19 pandemie op die ekonomie het.

Nagenoeg 2.2 miljoen Suid-Afrikaners het reeds sedert die begin van die inperking honger gely en navorsers vrees dat dinge oor die volgende paar maande gaan vererger en dat hongersnood (veral onder kinders) gaan toeneem. Daar word beraam dat ongeveer 9.6 miljoen leerders landwyd deur voedingskemas gevoed word, maar die meeste skole se voedingsprogramme was gedurende Vlak 4- en 5 van die inperking ontwrig.
Met die afgradering na Vlak 3 van die inperking en geleidelike heropening van skole vir verskillende grade, het die meeste voedingskemas weer hervat, maar dit verander nie die situasie in duisende huishoudings nie.
Hongersnood en wanvoeding onder kinders is nie net ‘n tragedie vir die oomblik nie, maar dit lei ook daartoe dat kinders se groei en verstandelike ontwikkeling vertraag word en dat hulle ‘n hoër risiko loop om vroeg te sterf.
Verder het dit ‘n lewenslange impak op hoeveel kinders skoolopleiding voltooi en dus op die tipe werk en inkomste wat hulle later as volwassenes bekom.
* Lesedi Community Centre (LCC) in Rensburg behartig sedert Maart ‘n noodskuiling wat daargestel is om akkommodasie en kos aan hawelose mense tydens inperking te voorsien. LCC is daarop beroep om diegene in die gemeenskap sonder ‘n inkomste, tydelik met voedselpakkies te ondersteun. Skakel vir Jaco Kritzinger by 072 575 0081 vir meer inligting.
* Heidelberg SAVF voorsien ook in die nood van behoeftige gesinne, maar voer ook ‘n daaglikse stryd om aan dié behoeftes te voldoen, weens ‘n gebrek aan finansiële bystand of donasies/skenkings. Daar word swaar op publieke ondersteuning geleun om te verseker dat geregistreerde gesinne gereeld van kospakkies voorsien word. Vir meer inligting, skakel Elmien van Zyl by 082 976 4486.
* Nigel SAVF voorsien tans ongeveer 80 gesinne van maandelikse kospakkies. Enige persoon wat as hulpbehoeftige by dié orgnisasie wil registreer, kan vir Chris Engelbrech by 082 561 9081 skakel.




