Sannie vier goue 100ste midde Covid-19 pandemie
Met die herdenking van Sannie Smit van Nigel se 100ste lewensjaar, het haar familie uitgelig dat dié formidabele vrou in 10 dekades ondermeer die tweede wêreldoorlog, die groot depressie van die 1930s, politieke transformasie, resessies, tegnologiese ontwikkeling en meer onlangs die Covid-19 pandemie beleef (en oorleef) het.
Sy is die matriarg van die Smit-familie en haar bloedlyn bestaan uit sewe dogters, 20 kleinkinders, 41 agterkleinkinders en 12 agter-agterkleinkinders.
“Wanneer ‘n mens die aangetroude familie byreken, bring dit die totaal op 118 te staan. Sy is ook die langslewende van haar broers en susters,” het haar kleindogter Sanet trots gesê.
Sannie het haar 100ste verjaardag op 24 Augustus saam met familie gevier en net soos voorheen was beter sig haar enigste wens want as daar een ding is wat sy nog op haar rype ouderdom wil doen, is dit om elke dag uit die Groot Boek te lees. Sannie is in 1920 op ‘n plaas by Reddersburg in die Vrystaat gebore waar sy tot die ouderdom van 16 jaar ‘n plaasskool bygewoon het.
Daarna het sy na Bloemfontein verhuis waar sy haar man ontmoet het en op 19-jarige ouderdom het sy in die huwelik getree. Sy het destyds lakens en kussingslope vir die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein gemaak, maar kort daarna het Transvaal die Smit-egpaar gelok en hulle het ‘n kleinhoewe by Vischkuil buite Springs gekoop.
Met sewe jong dogters het daar egter ‘n paar moeilike jare vir Sannie voorgelê toe haar man skielik in die ouderdom van 49 jaar weens ‘n beroerte gesterf het. Sy het egter ‘n manier gevind om kop bo water te hou en het vir 73 jaar op die plot gewoon, voordat sy Nigel Tuiste vir Bejaardes haar nuwe huis gemaak het.
Toe sy egter kort voor aankondiging van die grendelgreep ernstig siek raak, het haar dogters besluit dat sy beter aan huis van haar familie sou aansterk en haar verblyf by die tuiste het tot ‘n einde gekom. Volgens haar dogter Hannie gaan dit nou beter en het Sannie se gesondheid intussen verbeter. Sy sukkel steeds met swak sig, maar verder geniet sy dit om heeldag mense en beweging om haar te hê.
“Woorde wat Sannie se lewe opsom, is vervat in die Koos Du Plessis lied ‘Gebed’: “Wat ek is, is net genade, wat ek het is net geleen,” het Hannie afgesluit.




