Local newsNews

TLU SA ondersteun protesoptogte teen plaasaanvalle

"Boere is keelvol vir die aanslag op hul lewens en sal nou al hoe meer begin aksie neem teen misdadigers wat hulle aanval en intimideer."

Dit is die woorde van Dr Louis Meintjes (president van TLU SA) tydens dié organisasie se virtuele protesoptog teen plaasaanvalle op 14 Augustus.
Die land sien die afgelope maand al hoe meer dat gemeenskappe vreedsaam en in massas protesteer by hofsake wat handel oor plaasaanvalle en -moorde en volgens Dr Meintjies ondersteun TLU SA en hul lede hierdie aksies ten volle.

Tydens TLU SA se virtuele protesoptog het meer as 11 000 mense hul steun gewys deur vir die optog te registreer en boodskappe van hoop en krag aan boere te stuur. Die boodskappe het meer as 355 000 mense op sosiale media platforms bereik.
TLU SA was gedurende Augustus tydens optogte in Thabazimbi, Soekmekaar en Mokgopong verteenwoordig, waar verdagtes in plaasaanvalle in die hof verskyn het. Verdere optogte word ook beplan vir hofsake wat nog moet voorkom.

TLU SA beplan ook op 18 en 19 September die jaarlikse herdenking van slagoffers van plaasgeweld wat by die Witkruis Monument by Ysterberg (Limpopo) plaasvind, by te woon. Nuwe, wit kruise word jaarliks by dié monument opgerig vir slagoffers van plaasaanvalle.

“Ons is ingenome dat hierdie optogte telkens vreedsaam afloop en dat daar geen geweld of beskadiging daarmee gepaard gaan nie,” het Dr Meintjes gesê en Suid-Afrikaners aangemoedig om die optogte en aksies soveel as moontlik te ondersteun en ‘n standpunt teen plaasaanvalle in te neem.

“Die doel is om te wys dat plaasgemeenskappe kan saam staan en bereid is om op te staan vir die veiligheid van boere, gesinne en werkers,” het Dr Meintjies afgesluit.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Magda Maritz

News editor and journalist for HERAUT newspaper. 'Read what you like and like what you read' is my motto.

Related Articles

Back to top button