Ria Alberts tree af
As finansiële bestuurder het Ria Alberts (72) Nigel Tuiste vir Bejaardes se boeke tot die laaste syfer laat klop, maar na 27 jaar lê sy die tuig aan die einde van September neer en verwelkom haar aftrede met ope arms.
Hoewel sy haar pos met trots beklee het, was dit veral die tuiste se fondsinsamelingsprojekte wat haar na aan die hart gelê het. Sy het haar volle gewig by die jaarlikse oggendtee gegooi en telkens vir ‘n onvergeetlike geleentheid gesorg waar bekende kunstenaars soos Sonja Herholdt, Jannie Moolman en Jak de Priester (om ‘n paar te noem) gaste vermaak het. Ria was ook betrokke by die tuiste se behuisingskemas en was gemoeid met die verkoop en verhuring van wooneenhede en woonstelle en sê sy het altyd ‘n visie gehad vir moontlike uitbreiding om meer fondse vir die tuiste te genereer.
“Ek het hart en siel in my werk gestort en dit is met ‘n swaar gemoed dat ek afskeid neem van elke inwoner wat ‘n spesiale plek in my hart geserveer het,” het sy gesê.
Wanneer sy oor haar hoogtepunte gesels, was die viering van Nigel Tuiste vir Bejaardes se 40ste bestaansjaar ‘n geleentheid wat sy nooit sal vergeet nie. Sy onthou ook veral die viering van wyle Piet Kruger se 100ste verjaardag wat ‘n groot makietie met ‘n pretloop ingesluit het. Dié pretloop het daarna ‘n instelling geword. Die Covid-19 pandemie is vir haar die enigste noemenswaardige laagtepunt in haar loopbaan en hoewel die tuiste nie deur enige ernstige Covid-19-gevalle geraak is nie, was dit vir Ria moeilik om te sien hoe bejaarde en verswakte inwoners na kontakbesoeke deur hul geliefdes hunker.
Ria het in Nigel grootgeword en skoolgegaan en het na matriek by die destydse Volkskas Bank begin werk. Daarna het sy by die administratiewe span van Laerskool Hannes Visagie aangesluit en haar dienste na 10 jaar vir die pos by Nigel Tuiste vir Bejaardes verruil. 52 Jaar gelede het sy ewige trou aan George beloof en twee dogters en ‘n seun is uit hul huwelik gebore en deesdae is sy die trotse ouma van vier en spog selfs met een agterkleinkind.
Sy erken dat aftrede ‘n groot woord is en dat sy nie iemand is wat kan stilsit nie, maar een kyk na Ria se lowergroen en blomryke tuin by haar huis, laat ‘n mens besef dat sy groen vingers het en hulle gereeld in die grond druk. Sy het ook haar stempel as tuinier by Nigel Tuiste vir Bejaardes afgedruk en het nooit geskroom om haar moue op te rol om die tuine te verfraai nie. Aftrede beteken vir Ria reis en rus en sy sien daarna uit om saam met George in hul woonwa te gaan kamp sodra die inperkingsregulasies gelig word.
Sy hou haarself intussen met naalwerk besig, maar sê sy is ook lief vir bak en brou en sorg dat die ure van die dag daarmee gevul word. Ria het bestuur en haar kollegas, maar veral die gemeenskap in geheel bedank vir hul samewerking, ondersteuning en liefde die afgelope 27 jaar. “Ek groet elkeen met ‘n traan, maar dit was vir my ‘n voorreg om deel van die span te kon wees,” het sy afgesluit.




